DIT gebeur nie dikwels dat ’n joernalis se woorde opraak nie – daarvoor is daar heeltemal te veel onvertelde stories!
Woorde ontbreek egter wanneer ek moet vertel watter waarde dit tot my lewe toegevoeg het om ’n korrespondent te kan wees.
Ek het nie veel professionele ervaring gehad voordat ek op ’n advertensie vir korrespondente in die destydse Mid-Karoo Express (nou Komani-Karoo Express) gereageer het nie, en was op skool maar net redaktrise van ’n eenvoudige skoolkoe-rantjie!
Gelukkig beskik Media24 oor uiters be-kwame redaksionele personeel – ek leer vreeslik baie by hulle, en hulle help mens met groot geduld!
Die belangrikste eienskappe waaroor ’n korrespondent moet beskik, is ’n lewendige en opregte belangstelling in mense en gebeure om jou. Fyn waarnemingsvermoë en ’n “neus vir ’n storie” is ook nie te ver-smaaie nie.
Ek het geleer om soos ’n satellietskottel te wees – ek hou sosiale media soos Facebook en dorpe se WhatsApp-groepe dop – op dié manier hoor mens sommer baie vinnig van stories.
Mens hoef nie ’n indrukwekkende of groot kamera te hê nie – ek het vir twee jaar net met my iPhone oor die weg gekom, en my foto’s het dikwels die voorblad gehaal.
Desember 2019 het ek ’n oulike digitale kameratjie gekry met ’n sterk zoemlens – dit help as mens goeie foto’s wil neem maar jouself nie noodwendig te naby gevaarlike aksie wil plaas nie.
Die voordeel van vryskutwerk is dat jy kan kies watter soort stories jy wil dek. Nie almal hou van aktuele nuusgebeure soos munisipale aangeleenthede of misdaadbe-rigte nie.
Jy kan natuurlik kies om wel op sulke berigte te fokus, maar met plaaslike koerante soos Kouga Express is dit veel belang-riker en lekkerder om te vertel van ’n nuwe eetplek, ’n opwindende branderplankkompetisie of ’n plaaslike liefdadigheidsorganisasie se goeie werk.
Omdat mens nie vir ’n vaste salaris werk of ’n brandstoftoelaag ontvang nie, is dit wys om jou stories só te kies dat die kool darem die sous werd is.
Ek het geleer om meer as een storie se materiaal bymekaar te kry wanneer ek op naburige dorpe gaan besoek aflê.
Voordat ek begin skryf het, het ek vyf jaar lank sonder inkomste op ’n plaas gewoon en my kinders voltyds getuisskool.
Om weer ’n inkomste te kon genereer met skryfwerk wat ek só geniet, was erg bevredigend!
Ek sal nooit kan opsom watter avonture ek al beleef het sedert Januarie 2018 nie. Byna elke dag ontmoet ek nuwe mense en duisende lewensjare is by my eie gevoeg, want ek kry deurgaans ’n kykie op ander mense se interessante lewensreise, en ek voeg dit by myne soos mens bladsye in ’n ringlêer bêre.
So het ek betrokke geraak by boere- en kleindorpie-gemeenskappe, en met groot deernis geleer hoe veerkragtig die inwoners van die ongenaakbare Karoo kan wees.
Ek het ook geleer om met stewels op kaal landerye en in hartseer vrugte- boorde in die son te loop agter ’n storie oor die droogte aan, en die volgende oomblik in hakskoentjies by ’n glansgeleent-heid skouers te skuur met sjeiks en ministers.
Een oomblik klim jy in tekkies tot bo-op die dak van ’n afleweringswa om ’n lugfoto van kospakkies te neem, en die volgende oomblik trek jy jou skoene uit en dans saam met die kinders van ’n township in die strate as die water van ’n nuutge- boorde boorgat die lug opspuit.
Ek kan nie meer onthou net hoeveel keer ek saam met my medemens in die Karoo gelag, gehuil en in verwondering gestaan het nie.
Letterlik ALLES was interessant, want die lewe is vir my ’n onuitputlike bron van stories, ervaringe, geskiedkundige momente en grensverskuiwende avonture.
Die mees bevredigende deel van korrespondent-wees is dat ek soms oor ’n pro-bleemkwessie skryf en die buitewêreld dan daarop reageer en dinge beter maak.
Ek het onlangs in die apokriewe Boek van Thoma gelees: “If you bring forth what is within you, what you bring forth, will save you. If you do not bring forth what is within you, what you do not bring forth will destroy you.”
Toe verstaan ek waarom ek nie meer anders kan as om die stories van die mense om my neer te skryf nie.
Ek stem saam met Teilhard de Chardin wat gesê het: “We are spiritual beings having a human experience.”
Die voorreg om te kan skryf het ’n ongelooflike verdieping in my “human experience” teweeggebring.
As jy dit oorweeg om ’n korrespondent vir Kouga Express te wees, wil ek jou hart-lik aanmoedig met die woorde uit Ballade vir ’n Enkeling: Moenie dink nie. DOEN net!




