VALSKERMSPRING was hoog op Andrea Rautenbach van Despatch se lysie van dinge-om-te-doen-voor-my-dood, en toe sy haar eerste tandemsprong gedoen het, het sy geweet dit is iets wat sy op haar eie wil doen.
Haar entoesiasme was só aansteeklik dat haar ewe-avontuurlustige pa Gerrit nou saam met haar valskermkursusse doen.
Andrea sê sy het twee jaar gelede na Skydive Jeffreys Bay se web- tuiste gekyk en gedink dit is ervaring wat sy wil beleef. Intussen het die lewe gebeur en het sy te besig geraak om die groot sprong te neem, maar toe kom COVID-19.
“Hierdie pandemie en inperkings het my laat besef daar is nog baie avonture wat ek moet gaan doen. Net daar het ek Skydive Jeffreys Bay gebel en my eerste tandemsprong geboek.”
Daar is verskillende hoogtes en pakkette van die tandemspronge wat aangebied word en Andrea, toe nog daarvan oortuig dat dit n eenmalige belewenis sou wees, kies toe die hoogste opsie.
“Dit was 11 000-voet – en al die dinge wat daarmee saamgaan soos die foto’s en video’s. Alles was koel en kalm met die vliegtuig se gesirkel tot op die regte hoogte. Maar toe hulle sê nou is dit tyd vir uitspring, het my bene begin bewe, ek was bang. Gelukkig was die instrukteurs baie professioneel en het my baie gemaklik laat voel.
“Die eerste paar sekondes nadat ons uitgespring het, was oorweldigend want jy besef jy val, maar daarna het die adrenalien ingeskop en die volgende 45 sekondes van vryval was onbeskryflik salig – ’n gevoel van absolute vryheid.”
Andrea sê alhoewel sy hoogtevrees het, het sy dit glad nie op dui-sende voet in die lug ervaar nie.
“Die oomblik toe die valskerm oopgaan, het ’n doodse stilte ons omring. Soveel so dat jy ’n gesprek met jou instrukteur kon voer en die natuurskoon kon bewonder.”
Met die landing was Andrea se eerste gedagtes dat sy dit wéér en wéér wil doen.
“Dit was ’n ongelooflike, onbe-skryflike lekker avontuur. Die tipe adrenalien rush waaraan ek beslis verslaaf kan raak.”
’n Paar dae ná die tandemsprong het Andrea besluit om ’n kursus te doen om ’n gekwalifiseerde valskermspringer te word. Toe sy haar pa, Gerrit Rautenbach, daarvan vertel, het hy net daar en dan besluit hy gaan dit óók doen.
“My pa is amazing. Natuurlik ook ’n adrenalien-junkie en dit is fantasties om dit nou saam met hom te doen.”
Andrea en Gerrit doen die kursus by Skydive Mossel Bay, aangesien Skydive Jeffreys Bay nie kursusse aanbied nie. Hulle het intussen hul eerste paar solo-spronge reeds agter die rug.
“Dit is ’n heel ander ervaring. Dit wat jy leer op die grond is een ding, maar as jy 3 500-voet in die lug is, is dit ’n heel ander belewenis.”
Vir mede avontuurlustiges en vakansiegangers wat ook valskermspring op hul skop-die-emmer-lys het, sê Andrea: “Gaan doen dit! Jy lééf een keer.
“Dit is ’n belewenis wat jy jou leeftyd lank sal onthou!”
- Vir meer inligting oor Skydive Jeffreys Bay besoek hul webtuiste of bel 072 662 2150.




