’n GROWWE pad langs potloodskerp bome lei na ’n wegkruipwoud vol versteekte natuurjuwele.
Ragfyn mis vou die oggend in ’n kokon toe en vang jou vas in ’n droomwêreld wat die son later oopstraal en die see wyd voor jou laat oopvou.
Net agter die houthuisies lê blaarbedekte paadjies waar bome jou in ’n toorgroen woud lok. Varings, eeuoue bome, ’n kristalhelder waterstroom is ’n salige ontsnapping.
Misty Mountain Reserve in Tsitsikamma op die Tuinroete steel jou hart van die eerste oomblik wanneer ’n pronkende pou jou in volkleur by die ingang groet.
Knap personeel maak die ontvangs ’n tuiskoms-ervaring, en korte mette met inboek, aanwys en bagasie dra sodat jy jou net kan oorgee aan die luukse, fynbeplande behuising.
“Glampering”, ’n neologisme vir luukse kampering, materialiseer voor my oë in die ruim, alles-insluitende eenheid waar die son hoog instroom om die oudwêreldse bad op pootjies, steam-punk waterpype, houtvloer, fyn linne op die wye bed en eet/sitarea in goud te baai.
Glasdeure open op die rustieke houtstoep. Dit word later ’n pretpark vir ’n trop ondeunde apies wat kom snoep uit die woud reg agter die eenheid. Die bospaadjie regs lei af na ’n privaat buitestort; ’n eenword-ervaring met die natuur.
Die uitsig… Voor my streep die kuslyn 230m laer af – as die mis dit nie verskans nie. Misty Mountain is in ’n marine-reservaat langs die befaamde Tsitsikamma Nasionale Park geleë. Die inheemse bos wemel van voëls en diere, en jy hoor gedurig die gekwetter en geroep, veral van die poue wat losloop.
Die ander kothuise is verskans agter plante. Ekovriendelik, individueel – elke eenheid is uniek. Knus agter die verblyfeenhede is ’n houtpaadjie waar bospaadjies uittak, en ’n glimmende poel met krokodille lê. Ek vergaap my aan die yslike gediertes vanaf ’n bruggie en sien hoe hulle gevoer word.
Breek weg
Vir ’n wegkom-naweek, gesinstyd, aksie-avontuur, romantiek, eietyd of blote wegbreek, bied Misty Mountain die nodige verskeidenheid verblyf, aktiwiteite en geriewe. Hul aandag aan detail is uitstekend en hartlike personeel is ’n plesier.
Op hul perseel het Misty Mountain begeleide staproetes, woudwandelinge, vierwiel-motor- fietsritte, verskeie soorte gholf, bergfietsroetes (8.7km – 65km met jou eie fiets) en varswater- hengel.
Die restaurant en sitkamer met vuurherd en kroeg skep ’n tuisvoel omgewing. Buite plons gaste in die swembad en ander ontspan op die groot dek.
Internet-geriewe is by die hoof-ontvangs wat ’n heerlike verposing in die verblyf-eenhede bied. ’n Geleentheid om werklik weg te kom. Fotograwe, voëlkykers, avonturiers, stappers… ek het plat op die woudvloer gesit en ’n opname gemaak – die ideale agtergrond.
Stappers kom gereeld rooigesig en uitasem na ’n trek op die Dolphin Trail by die ontvangs aan, en rus heerlik onder die bome. Die roete is in 2001 geopen waarna die eerste houtkothuise vir die stappers gebou is.
Die omliggende gebied is propvol aktiwiteite. Dit is behoorlik ’n skatkis wat ’n hanetree weg is van die Stormsrivier-mond, Tsitsikamma se magdom adrenaliengevulde aktiwiteite, die grootste boom, ’n land vol ape en geveerdes, groot katte, olifante en ander diere.
Eienaars Greg en Tracy Scott, saam met die bemarking se Nicky Saayman het ’n wenresep. Van ’n suiwelplaas tot by ’n spogplek.
Tussen berge en klowe ontmoet ’n towerwoud die blouselblou see en skep ’n droomwêreld waarin jy kan ontsnap, asemskep en herlaai.
Misty Mountains Reserve het my betower.
Skakel gerus 042 280 3004 of stuur ’n epos na info@mistysa. co.za.



