Wyle Valery Theresa Prinsloo is in Desember oorlede. Foto: VERSKAF


DIE skielike heengaan van Valery Theresa Prinsloo, beter bekend as antie Val, laat ’n groot leemte veral omdat sy ’n inspirasie was wat welwillendsheidswerk betref in die sustersbond van die Humansdorp se VGK-kerk.

Prinsloo (56) is op 11 Desember 2020 in die St. George’s-hospitaal oorlede ná ’n kort siekbed.

Haar man, gesoute speurder van Humansdorp, Adjudant-Offisier Pieter Prinsloo, sê dat antie Val vir 35 jaar sy eggenote was.

“Ons het in Middelburg ontmoet en dit was liefde met die eerste oogopslag,” het Pieter vertel.

Daar is drie kinders uit dié huwelik gebore, naamlik een seun Rowellen, ’n verkeersbeampte, en twee dogters , Chanelle, ’n prokureur, en Chemondré, ’n maatskaplike werker.

Verder is hulle geseën met ’n kleindogter, Carlin Prinsloo.

Antie Val, wat haarself as ’n verpleegster bekwaam het, was sedert 1987 by die Humansdorp-hospitaal werksaam, waar sy veral in die kraamafdeling diens gedoen het. In 2006 moes sy egter noodgedwonge haar werk vaarwel toeroep weens ’n rugbesering.

Sy het toe ’n familiebesigheid op die been gebring, Prinsloo Algemene Handelaar in Arcadia, maar sy het ook haar passie as Christen by die VGK-kerk uitgeleef en was ondervoorsitter van die sustersbond.

“Ek wil graag van dié geleentheid gebruik maak en almal bedank wat ons as die familie tydens my vrou se heengaan bygestaan het. In besonders my kollegas by die SAPD, die departement van justisie, my kinders se vriende, ds. Greggory Jacobs en die VGK-gemeente, ds. Steven Jonas wat die begrafnis behartig het en natuurlik die sustersbond van die VGK-kerk,” het Pieter gesê.

“Een ding wat ons as familie sal voortbou op haar nalatenskap, is haar respek vir haar medemens, ongeag wie dit mag wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article