VIR die afgelope drie weke het ’n groep jongmense in Humansdorp, onder leiding van evangelis Joabin Seffier, besluit om deur middel van gebed hande te vat teen die sinnelose moorde wat die dorp tot in sy fondament die afgelope tyd, geskud het.
Bykans elke week word geskiet met sommige gedood, veral snags in gebiede soos Arcadia, Gill Marcuswoonbuurt, Vaaldam en selfs die breë Kruisfontein gebied.
Seffier het ’n span gelowiges bymekaar ge-roep om te besin oor die moontlikheid van samewerking deur na die sogenaamde rooi gebiede te gaan en daar bidsessies te hou.
Op Sondag 24 Januarie net na 14:00 het hulle hul derde agtereenvolgende opelug-byeenkoms gehou waar die getroue handjievol gelowiges by die “Point” in Jacobs-straat in Arcadia byeengekom en soos een man/vrou gebid het tot God vir sy genade in dié tye.
“Ons beskou dit as sukses, en alhoewel daar nou nie so baie mense toegelaat was nie, beskou ons dit as ’n stap in die regte rigting,” het Seffier gesê.


