NÁ sewe jaar as skoolhoof van die King’s College in Ocean View, Jeffreysbaai, groet Soria Swart met ’n swaar, maar dankbare, hart.
Swart, ’n gekwalifiseerde arbeidsterapeut en sielkundige met ’n besigheidsadministrasie-kwa-lifikasie, het in middel 2013 as terapeut by King’s College aange-sluit. Slegs ses maande later is sy as hoof van hierdie laerskool oorkant Marina Martinique aange-stel.
Onder haar leiding het die skool nie net ’n naam, skooluniform, embleem en skoollied gekry nie, maar ook ’n erkende leerplan – leerders kon vir die eerste keer eksamen skryf. En prysuitdeling hou. Hulle kon ook vir die eerste keer ’n konsert op die planke bring en aan sport deelneem.
“My pa, wat in sy glorie-dae vir die Westelike Provinsie rugby gespeel het en later ’n skeidsregter was, was op die jeugdige ouderdom van 84 die eerste rugby-afrigter by die skool,” het Soria gesê.
Sokker, branderplankry, tafel-tennis, netbal en boogskiet het gevolg – al is daar geen sportgronde nie.
“By King’s College draai ons elke struikelblok in ’n geleentheid om,” sê sy.
Swart het verder verskeie na-skoolse projekte, wat by die huidige leerplan aansluit, met groot sukses op die been gebring. Dit sluit in naaldwerk, huishoudkunde, houtwerk, dans, tegniese werk, kralewerk en tuinbou.
Hoog op haar prioriteitslys was die ontwikkeling van personeel-lede en bou van verhoudings – daar was elke oggend voor skool spanbou. “Wanneer ons in verhoudings belê, belê ons in iets wat ewigheidswaarde het,” sê sy.
“’n Skool is soveel meer as ’n akademise kurrikulum.”
Van haar hoogtepunte sluit in, ’n voormalige King’s College-leerder wat vanjaar Maatskaplike Werk by die Universiteit van Kaapstad gaan studeer, asook sewe leerders wat vanjaar met die hulp van studiebeurse by die Hoërskool Nico Malan gaan skoolgaan. Nóg ’n eerste vir die skool.
“Wanneer ek terugkyk op die sewe jaar as hoof van King’s College, was dit vir my die mooiste, volste, sinvolste, mees opwindende en geseënde jare van my 59 jaar op die planeet.
“As ek dink oor wat ek als bereik het en op watter besonderse manier ek die lewens van honderde families van King’s College aangeraak en verander het, dan weet ek daar buite wag ’n groter platform waar ek vir meer mense kan waarde toevoeg.”
Swart bedank elke personeellid – vir elke uur van die soms moei-like pad.
“Julle het met soveel kreatiwi-teit, passie en entoesiasme ons skool tot ongekende hoogtes ge-dra. Dankie vir julle ondersteuning – vir elke klein gebaar om my dag mooi en lekker te maak. Nie een koppie koffie, glimlag, drukkie, pynpil, oproep, boodskap of grappie het ongesiens verby gegaan nie.
“Dankie aan elke ouer wat my met soveel dankbaarheid en waardering ondersteun het en die ongelooflike liefde van elke leerder. Asook die nimmereindig-ende hulp en ondersteuning van plaaslike besighede, organisasies en gemeenskapslede.”



