Britz Prokureurs het onlangs ’n nuwe elektriese skoolklok saam met Smhart Sekuriteit aan die Baviaans Kouga Academy in Patensie oorhandig. Van links: Britz Prokureurs se Henni Britz (Raadslid in die Sarah Baartman-distrik), Anita Swart (Waarnemende skoolhoof: Baviaans Kouga Academy) en Smhart Sekuriteit se Johan Maritz en Dean May. fOTO: VERSKAF

DIE moderne laerskool, Baviaans Kouga Academy wat einde 2020 sy deure in Patensie oopgemaak het, is onlangs met ’n splinternuwe elektriese skoolklok verras.

Volgens DA-raadslid in die Sarah Baartman-distrik, Henni Britz, het een van die onderwysers dit onder sy aandag gebring dat die multi-miljoenrand skool, wat 400 leerders in ultra-moderne klaskamers akkommodeer, nooit met ’n behoorlike skoolklok toegerus is nie.

Periodes en die einde van die skooldag is aangekondig deur die lui van ’n handklok, tot groot frustrasie van sommige leerders en onderwysers wat nie die handklok kon hoor nie.

Daarna het Britz Prokureurs van Jeffreysbaai en Carl Trahms van Smhart Sekuriteit kragte saamge-span om die saak reg te stel. Britz Prokureurs het die klok geskenk en Smhart Sekuriteit sal die installe-ring daarvan gratis doen.

“Onderwys en opleiding aan plattelandse skole in die Oos- Kaap lê my na aan die hart. Skole in plattelandse gebiede in dié provinsie suig dikwels aan die agterste speen wanneer dit kom by beplanning en finansiering,” het Britz tydens die oorhandigingseremonie gesê.

“Plattelandse leerders verdien gelyke geleenthede en moet behoorlik toegerus word. ’n Vaste opvoedingsfondament is ’n noodsaaklikheid vir alle skole in ons distrik sodat leerders suksesvol toegerus kan word vir die toe-koms,” het Britz bygevoeg.

Hy het ook sakeondernemings uitgenooi om betrokke te raak by hul gemeenskappe.

Waarnemende skoolhoof van Baviaans Kouga Academy, Anita Swart, het die skenking met groot dank namens die skool in ontvangs geneem.

“Ek wil graag die raadslid en onderskeie besighede bedank vir hul betrokkenheid by en belangstelling in die skool,” het Swart gesê. Die oorhandiging is ook deur Johan Maritz en Dean May van Smhart Sekuriteit bygewoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article