’n PLAASLIKE skrywer, met dertien titels agter sy naam, het onlangs sy internasionale debuut gemaak met sy jongste boek met die titel Love under Fire.
Die Afrikaanse weergawe van die roman, Liefde in Konflik, is onlangs plaaslik deur Naledi Uitgewers bekend gestel.
Louis Rautenbach, inwoner van Jeffreysbaai, kry dit nog altyd reg om verskillende genre te gebruik in sy stories, en verras in hierdie boek met die die tydlyn waarin dit vertel word.
Rautenbach werk voltyds as die krediet-bestuurder van die Koöperasie Groep en skryf is sy stokperdjie.
“Ek skryf die meeste gedurende die wintermaande wanneer ek nie die buitelug kan geniet nie. Ek is ’n somer-mens wat graag tyd in die natuur deurbring.
Liefde in Konflik
Die boek handel oor ’n Nieu-Seelandse paartjie – ’n voetsoldaat en mediese suster – wat in September 1939 albei na die front in Egipte uitgeplaas word vir hul deelname aan die tweede wêreld-oorlog in Europa.
“Die idee vir die verhaal het tydens my laaste besoek aan my kinders, enkele weke voor die internasionale grendeltyd, in die Te Papa Museum in Wellington ontstaan. Hierdie indrukwekkende uitstalling het my nuuskierigheid tot so ’n mate geprikkel dat ek graag wou weet wat so ’n klein eilandstaat se bydrae in so ’n groot oorlog kon wees. Die potensiaal was tog daar om die eiland in een dag te vernietig,” het Rautenbach gesê.
Deeglike navorsing
Na deeglike navorsing is fiktiewe karakters in sekere konfliksituasies geskep, en bied hierdie omgewing waarin die verhaal af-speel baie uitdaging wat te midde van lief en leed ook uithouvermoë van die karakters verg. Feite is met fiksie gemeng sodat die verhaal heerlike leesgenot sal verskaf.
“Die lesers word uitgenooi om self te gaan lees hoe die konflik afgeskop en die liefdesverhaal ontvou en uitgespeel het,” sê hy.
’n Mede-skrywer en grafiese kunstenaar, Annekie Heyns van Paradysstrand, het die omslag vir die Afrikaanse weergawe ontwerp, terwyl die Londense uitgewers ’n omslag gemik op die internasionale mark geskep het.
Rautenbach het reeds begin met ’n boek met dieselfde genre wat weer ’n uitvloeisel van hierdie boek was. “Die buitelandse uitgewers hou van die storielyn van die nuwe boek, en het by voorbaat aangedui dat hulle beslis daarin belangstel om die boek ook uit te gee.”
“Ses van my boeke is na Engels vertaal. Ek het daarvan ook na Holland, Pakistan, Nieu-Seeland en Kanada gestuur. Selfs uit Pakistan het ek goeie terugvoer gekry, al was baie begrippe effe te Wes-ters, het die leser dit duidelik nogtans geniet,” vertel Rautenbach.
“My jongste boek, Liefde in Konflik was pas uitgegee toe ek ’n oproep van Author House in London ontvang. Hulle wou die ma-nuskrip nagaan en het gesê dat dit ongeveer nege maande sal neem om die boek op die rakke te hê. Na twee weke het hulle my gekontak en gesê dat dit ‘a neat piece of artistic work’ is en dat hulle dit binne twee maande op die rakke kan hê. Hulle is taamlik opgewonde oor die boek, en sê dat dié genre hoogs in aanvraag is, en ook baie skaars is.”
- Die Afrikaanse boek, Liefde in Konflik, kan bestel word by Naledi Uitgewers teen R220 elk, posgeld en verpakking uitgesluit, of (in albei vertalings) plaaslik by Rautenbach aangekoop word. Bestelling kan geplaas word by loraut@gmail.com. Die eBook sal ook binnekort beskikbaar wees.




