AKTEUR Phillip Henn het oorspronklik be-kendheid verwerf vir sy rol as Johann Vorster in die televisie sepie, Egoli en is later jare te sien gewees in rolle soos dié van dokter Chris Van Deventer in die gewilde televisiereeks, Binnelanders.

Phillip
Die voorblad van Phillip Henn se debuutroman, ‘500 Myl’. Foto: VERSKAF

’n Man van vele talente, voor én agter die kameras, het Phillip helaas besluit om sy hand aan die pen te slaan en dit het eindelik tot die publi-kasie van sy debuutroman, 500 Myl, gelei.

Met die eerste oogopslag is hierdie boek werklik iets spesiaal. Die verpakking is uniek en klassiek en bring werklik ’n gevoel van besit by die leser tuis. Dit is pragtig verpak in ’n bruin karton omslag waarin die boek perfek pas. Dit ontlok die besef dat hierdie boek werklik iets spesiaal is – nog voor die eerste woord gelees word. Daar is ’n spreekwoord wat lui dat ’n prent ’n duisend woorde werd is, en dit is verseker die geval met die voorblad van hierdie boek.

Die verlatenheid, deursettingsvermoë en onwankelbare geloof van die penkoppe – die kinders waaroor hierdie verhaal handel – word op ’n ongelooflike manier vasgevang in die foto op die voorblad van hierdie roman.

Dit getuig nie net van die roerende inhoud van die boek nie, maar ook van die ongelooflike ta-lent wat die skrywer as fotograaf het.

500 Myl is ’n aangrypende verhaal wat ’n blik bied op die lewens van ’n groep kinders tydens die tweede Anglo-boereoorlog. Die kinders besluit dat hulle nie verder kans sien om in ’n oorlog te veg waarvan hulle geen deel wil hê nie.

In die eerste hoofstuk word die leser aan die hoofkarakters bekend gestel asook die absolute hopeloosheid van hulle lot in hierdie oorlog vir grootmense. Hulle besluit toe om die reis aan te pak na die weskus, waar hulle hopelik sou vry kom van die ellende waarin hulle hulself bevind.

En so begin die reis met hierdie gebed, “Onse Hemelse Vader…doodgaan sal ons doodgaan…maar hóé ons leef terwýl ons leef, is al wat saak maak…net met U genade alleen…Amen.”

500 Myl. 15 Dae. 7 Kinders.

Die boek is geinspireer deur ware gebeure en ware karakters wat gegrond is op deeglike na-vorsing. Dit bied vermaaklikheid sowel as ge-skiedkundige waarde wat ons as Afrikaanssprekendes, ons nageslagte verskuldig is.

Phillip
Akteur Phillip Henn het oorspronklik bekendheid verwerf vir sy rol as Johann Vorster in die televisie sepie, ‘Egoli’ en is later jare te sien gewees in rolle soos dié van dokter Chris Van Deventer in die gewilde televisiereeks, ‘Binne-landers’. Foto: JURIE VAN DYK

Dit is óns as ouers en grootouers wat die nagedagtenis van die duisende kinders wat hulle lewens vir ons land opgeoffer het, moet vereer. Dit is slegs moontlik as ons die penkoppe se stories oorvertel sodat niemand dit ooit vergeet nie.

Alhoewel die verhaal hartroerend en volwasse is, is dit in eenvoudige Afrikaans geskryf, sodat dit vir alle ouderdomme toeganklik is.

Die waardes van vriendskap, uithouvermoë, omgee vir jou medemens en belangrikheid van geloof in tye van swaarkry, maak hierdie boek die perfekte geskenk vir jonk en oud.

Die 500 Myl–film sal ook in 2022 op ons skerms verskyn – voorwaar iets om na uit te sien.

Besoek gerus die boek se webtuiste: 500myl.com om met Phillip kontak te maak om die boek te bestel, asook vir spesiale aanbiedinge, grootmaatbestellings en afslag vir skole. Hierdie projek is vir Phillip baie na aan die hart en hy neem groot trots daarin om boeke te teken, te verpak en persoonlik uit te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article