TEHILLA Meyer, graad 7 leerder van Victory Christian School, het weer eens beïndruk met haar kunstalent.
Sy het onlangs in die ATKV se “Skilder met woorde” kompetisie uitgeblink waar beide laerskool- en hoërskoolleerders genooi is om een van Anton Goosen se liedjies te illustreer.
Duisende inskrywings is ontvang en Tehilla se kunswerk is op 13 Maart aangewys as een van die top 10 finaliste.
Sy het die liedjie Trompie, temalied van die gewilde televisie-reeks uit die 1980’s, gekies om te illustreer.
Meyer het in 2020 ook presteer toe haar kuns-werke gekies is om in die wêreldberoemde skrywer, J.K Rowling, se Afrikaanse vertaling van die boek, Die Ickabog, te verskyn.
Skoolhoof van Victory Christian School, Gavin Thompson het die volgende aan Kouga Express gesê: “Tehilla is ’n besonders talentvolle kunstenaar. Sy presteer provin- siaal en nasionaal op akademiese asook kulturele vlak, wat ballet en kuns insluit.
“Sy gee altyd haar beste in alles wat sy aanpak en haar prestasies getuig verseker daarvan. Ons is baie trots op haar.”




