DIE naam van hierdie kindersorgsentrum is Tharros – dit is ’n Griekse woord wat “Courage” of “Moed” beteken. Dit, volgens Michelle Dorfling, lid van die bestuurraad by Tharros, is presies wat hulle die kinders toewens wat in hul sorg geplaas word.
Thérèse Sampson het in 2016 die sentrum begin op die perseel van die destydse Hankey-kinderhuis nadat sy by die Joshua-projek in Jeffreysbaai as ’n vrywilliger gewerk het.
Die frustrasie om ’n veilige plek te vind om kwesbare kinders te plaas, was elke dag vir haar en haar span ’n werklikheid en sy het toe besluit om ’n oplossing vir hierdie probleem te bewerkstellig.
Dorfling verduidelik, “Dit gebeur soms dat kinders tydelik of permanent uit ge-vaarlike of ongeskikte huislike omstan-dighede moet verwyder word, maar dit kan nie gebeur as daar nie ’n plek van veilig-heid is waarheen hulle geneem kan word nie.
“Daar was ’n groot behoefte om ’n plek van veiligheid te begin vir hierdie kwesbare kinders.”
Hierdie sentrum is nie ’n kinderhuis nie, maar werk saam met die department van maatskaplike ontwikkelling om ’n tydelike veilige hawe te bied vir kinders wat uit hulle huidige omstandighede verwyder moet word.
Kinders kan vir ’n maksimum tydperk van twee jaar daar woon, tot hulle ’n permanente plasing by pleegouers kry of aange-neem word.
Die hart van die sentrum is eerstens om, onder leiding van die department van maatskaplike ontwikkeling, kinders met hul ouers te herenig waar moontlik. Dit is ongelukkig nie altyd ’n moontlikheid nie en dan word die kinders in die groter maatskaplike stelsel opgeneem.
Tydens hul tyd by Tharros, ontvang die kinders 24 uur ’n dag sorg, opvoeding en terapie deur permanente versorgers en maatskaplike werkers.
“Dit kan baie traumaties vir kinders wees om uit hulle ouerhuise verwyder te word en dit verg iemand met ’n omgee-hart om na hulle om te sien sodat hulle verseker kan wees dat hulle veilig is. Hierdie kinders het ook soms vertraagde ontwikkelling as gevolg van trauma of verwaarlo-sing, en dan word daar baie intens met hulle gewerk om hulle die sorg te gee wat hulle benodig,” sê Dorfling.
“Dit is ook van uiterste belang dat die kinders onmiddellik in plaaslike skole geplaas word, om te verseker dat hulle nie ’n akademiese agterstand ontwikkel gedu-rende hul tyd in die sentrum nie.
“Skool is ook baie belangrik om ’n sin van normaliteit en roetine aan die kinders te verskaf.”
Die sentrum neem kinders van babas tot en met die ouderdom van 12 jaar in.
Meer as 65 kinders is al in die laaste twee jaar by hulle geplaas en hulle kapa-siteit is 25 op ’n slag.
Daar is tans 18 kinders in hule sorg, wat beteken dat die personeel hul hande vol het met die versorging van die kinders.
Tog doen hulle hul werk met deernis en deeglikheid, sodat die kinders te alle tye veilig en versorg is.
Tharros poog ook om hul personeel te bemagtig deur hulle te ondersteun met verdere studies in kinderversorging en -opvoeding.
Vier van hulle personeellede is tans besig met studies in hierdie rigting.
Dit beteken dat die kinders die beste moontlike sorg kry, terwyl die personeel geleenthede kry vir selfverryking.
Dorfling rig ’n uitnodiging aan die gemeenskap om deel te word van die Tharros-familie. “Ons kinders is ons toekoms, ons moet hulle koester.”
Dit kos R120 per kind per dag om die nodige sorg te bied.
Alhoewel Tharros deur die departenent van maatskaplike ontwikkeling onder- steun word, is hulle ’n nie-regeringsorganisasie, wat beteken dat hulle slegs op die welwillendheid van die gemeenskap en besighede in die omgewing staat maak om die pot aan die kook te hou.
“By Tharros glo ons dat elke kind die reg het tot ’n veilige, liefdevolle huis waar hulle versorg word en ons doen daagliks ons bes om seker te maak dat dit waar is vir die kinders in ons sorg.”


