Vicki Fourie, voormalige Mej. Dowe Suid-Afrika, is voorwaar ’n vrou van vele talente.

As ’n nuweling in Jeffreysbaai het sy gróót planne om die dorp se kreatiwiteit vas te vat en kreatiewe mense, wat werk in alle mediums, te verenig om mekaar te ondersteun en idees uit te ruil.

Vee
Vicki Fouriehet gróót planne om Jeffreysbaai se kreatiwiteit vas te vat en kreatiewe mense, wat werk in alle mediums, te verenig om mekaar te ondersteun en idees uit te ruil. Foto: VERSKAF

Alhoewel Vicky 97% doof is, het dit haar nog nooit gekeer om haar talente en gawes teen volle te benut nie. Sy het op skool alles gedoen van ballet tot drama, krea-tiewe skryfwerk, verskeie sport-soorte– en uitgeblink in al hierdie gebiede.

Sy het beslis nie toegelaat dat haar gestremdheid haar kniehalter nie.

Nadat sy in 2009 as Mej. Dowe Suid-Afrika bekroon is en haar land in beide die VSA en Praag gaan verteenwoordig het, het haar loopbaan as motiveringspreker begin.

Intussen het sy haarself ook as aktrise bekwaam deur die hoofrol los te slaan in ’n teaterstuk wat by Vryfees en Aardklop opgevoer is in 2013 en 2014.

As motiveringspreker het sy reeds meer as 200 keer opgetree en haar persoonlike uitdagings gebruik om ander te inspireer.

Daarvolgens het sy ook twee boeke gepubliseer: Haar eerste boek, Viva La Vicki is haar lewensverhaal en bied hoop en inspirasie vir tieners wat soek na identiteit.

Haar tweede boek, God lief my is in 2014 gepubliseer.

Buiten boeke het sy al meer as 250 artikels en rubrieke vir be-kende tydskrifte geskryf – dis nou wanneer sy nie op die voorblad van nasionale en internasionale publikasies soos: JUIG, That’s My Girl, Passi, Single!, Sweet Designs, MyMag en CRC se tydskrif, Devoted, pryk nie.

Vicki en haar ma, Bonita, het in Februarie besluit om na Jeffreysbaai te verhuis vanaf Bloemfontein en omdat Vicki daar aan ’n skrywersvereniging behoort het, het sy dadelik in haar nuwe tuisdorp na iets soortgelyk begin soek.

“Ek het met ’n bietjie navorsing besef dat Jeffreysbaai ’n kreatiewe mekka is. Dit is vir my wonderlik, tog was ek verbaas om te hoor dat daar geen plaaslike skrywersvereniging is nie. Ek wil graag ’n kreatiewe forum begin genaamd, ‘JBay creatives’ om ons kreatiewes bymekaar te kry. Alle areas van kreatiwiteit is vir my baie belangrik, maar ek wil begin by skrywers omdat dit ’n veld is waarin ek die meeste ondervinding het.”

Vicki het besluit om vir eers drie verskillende skryfgroepe te begin.

Een groep sal uitsluitlik vir skoolleerders wees, een vir afgetredes en een vir jong volwassenes.

Sy gaan vir hierdie groepe ’n skryfkursus aanbied en die lede sal die geleentheid hê om hulle kreatiwiteit met mekaar te deel, mekaar te slyp en hulle gedeelde passie saam uit te leef.

Enigiemand wat sou belang stel om deel te word van hierdie skrywersassosiasie is welkom om vir Vicki te kontak by jbaycreatives@gmail.com.

  • Een Kouga Express leser kan Vicki se boek, Viva La Vicki wen. Vul jou besonderhede hier onder in en jy is dalk die gelukkige leser.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article