Johan Roets staan in die Kouga-gebied bekend as iemand wat met hout kan toor.
Hy en sy vrou Riekie, is mede-eienaars van die houtfabriek, R and J Woodys wat hulle in die vroeë negentigs gekoop het.
Albei hulle volwasse seuns, Paul en Louis, het mettertyd ook by hulle aangesluit en die fabriek is nou ’n volwaardige familiebesigheid wat hoofsaaklik meubels aan Aberdeens-dennehoutmeubels in Gqeberha verskaf.
Hoewel die 60-jarige Johan sy inkomste as eienaar van dié meubelfabriek in Milton, net buite Hankey verdien, bou hy ook die lieflikste pophuisies en skep hy ook kunswerke uit hout.
Sy liefde vir houtwerk kom al van sy skooldae in die ou Transvaal, soos hy dit stel, af en waar houtwerk en tegniese tekeninge twee vakke was waarin hy presteer het.
“Ek wou so graag ’n tegniese tekenaar word, maar my Afrikaanse- en Engelse-punte het dié droom vir so rukkie opsy geskuif,” sê hy.
“Later het ek vir my die CAD-rekenaarprogram gekoop waarmee jy enigiets kan ontwerp en te lekker daarmee gespeel.”
Johan is ook baie kunstig, ’n talent wat hy moontlik by sy ma wat graag geskilder het, geërf het.
“Sy het baie lank by ons gewoon voordat sy by my broer gaan woon het en ek het omtrent nog ’n kamer vol van haar skilderye hier by ons,” sê hy.
“Maar,” keer hy gou , “ek het ’n geheim vir my kunswerke, ek sny dit met ’n CNC-masjien (’n gerekenariseerde sny-masjien) uit en verf dit dan, dis ook hoe Zonky-speelgoed as ’n stokperdjie gestalte gekry het.
“Ek het verskillende pophuise en speelgoed begin maak en naweek na naweek op al wat ’n vlooimark is daarmee gaan sit. Dit het baie goed gedoen, maar nou hou die fabriek my te besig en ek verkoop die speelgoed aanlyn en op bestelling.”
Die speelgoed is waarlik ’n kind wat nog daarvan hou om te speel, se droom.
Die pophuise, gewoonlik geverf in sagte pastelkleure, maar ’n byderwetse Barbie kan maar haar kleurbestelling plaas, lyk soos iets uit ’n sprokieswêreld en kinders wat verkies om eerder met karretjies te speel kan ook een van Johan se motorhawens, sommer met drie vlakke bestel waarin hulle Hot Wheels baie spoggerig sal lyk!
“Ek sny nie meer so dikwels die prente nie, maar sal dit steeds doen as iemand iets wil hê, soos die naambord wat ek vir The Mexican-restaurant op Jeffreysbaai gemaak het.”
Sy hande staan eintlik vir niks verkeerd nie.
Verlede maand het hy deelgeneem aan ’n potjiekos-kompetisie by die Local is Lekker Pub & Grub wat in die Pabala-natuurreservaat geleë is.
Daarvoor het hy ’n sommer vinnig ’n aansig van ’n Cortina uit hout ge-sny om sy Brakpan-stalletjie mee te versier.
“Dis ’n 3-liter Cortina, dis al wat saam met ’n twee liter Coke en een liter brandewyn gaan!” waarsku hy.
Daarvoor het hy ook uit allerhande ysters en selfs ’n kar se bull bar wat hy by sy seun se tuiskroeg afgebedel het, ’n staander vir sy potjies gebou waarin hy heerlik afval gekook het, hoe dan nou anders!
Johan is ook nie net meubelmaker, entrepreneur en storieverteller van formaat nie, hy is ook ’n avonturier.
Hy en Riekie is al 40 jaar getroud; “Sy het nog nie weggeloop nie, nog net saam geloop!” lag hy.
Die ervaringe laat hy ook dikwels soos kinderspeletjies lyk.
“Ek het al die meeste van die stap-roetes in Suid-Afrika gestap en drie keer Kilimandjaro gaan uitklim, twee keer saam met my broer Louis en ’n paar ander mense en een keer was my vrou ook saam, maar sy het nie die berg uitgeklim nie.”
“Dis eintlik ’n walk in the park, ongeveer 54 km, so twee dae se op en twee dae se af stap”
“Ons maak gewoonlik sommer ’n behoorlike vakansie daarvan en spandeer gewoonlik dan baie tyd in die lande soos Mosambiek en Botswana, afhangende hoe ons besluit om daarheen te ry.”
“Ek is baie lief vir scuba diving en het al in lande soos Egipte en Malawi gaan duik.”
“Volgende op my bucket list is om uit ’n vliegtuig te gaan spring, ek het darem al ge-bungy jump, dit kan nie veel erger wees nie!”
- Bel Johan Roets by 083 225 5229, R and J Woodys by 082 894 3715 of stuur epos aan jjroets3@gmail.com of besoek die Facebookblad Zonky Wooden Toys vir meer inligting.


