JESSIE Bester, plaaslike sakeman, is besig om die land te verower met sy nuwe toep (app), Diginu.
Die naam van die toep bestaan uit twee woor-de, naamlik,“Digital Menu”, en dit is presies wat dit is: ’n spyskaart van alles wat jy moontlik by jou huis kan en wil bestel vir aflewering.
Bester verduidelik, “Deesdae kan ’n mens by amper enige restaurant etes bestel vir aflewe-ring. Wat dit moeilik maak is dat elke restaurant sy eie afleweringstelsel of toep het en dit is onprakties om elke restaurant se toep op jou selfoon af te laai. Diginu maak dit moontlik om enige plaaslike restaurant te ondersteun sonder al die administrasie en moeite om by elke toep en restaurant van voor af jou besonderhede te moet inlees en in te teken.”
Die idee vir hierdie toep het ontstaan toe Bester op skool was. As ’n graad 10-leerder aan die Hoërskool Nico Malan het hy reeds groot ge-droom en die idee begin ontwikkel. Sy aanvanklike plan was om ’n stelsel te skep wat kliënte in restaurante kan gebruik om direk met die kombuis te kan kommunikeer. Dit sou ’n toestel by elke tafel plaas wat die volledige spyskaart bevat waarop die kliënt sy of haar eie bestelling kon plaas.
“Soms wil ’n mens ’n vinnige koppie koffie bestel en dan neem die kelner of kelnerin lank omdat die restaurant besig is. So ’n stelsel maak dit vir die kelner of kelnerin moontlik om net die kos na die tafels te neem én skakel die moontlikheid van ’n verkeerde bestelling uit. Lank wag vir diens sou dus iets van die verlede wees”.
Ongelukkig het die tegnologie wat hierdie skoolseun se idee tot stand sou bring in 2007 nog nie bestaan nie. Selfone was nog nie so slim soos vandag nie en draadlose internet-netwerke was nog nie so wyd beskikbaar soos vandag nie.
“Met die tegnologie wat destyds beskikbaar was sou die stelsel nie vir restaurante finan- sieel sin gemaak het om te installeer nie. Ek het toe my idee so bietjie in die agtergrond gesit en na skool op Stellenbosch gaan studeer. Daarna het ek op luukse seiljagte gaan werk as duikmeester. Dit het my besig gehou en toegelaat om geld te verdien en te reis, maar in al my vrye tyd het ek navorsing gedoen oor my besigheid en hoe om dit lewensvatbaar te maak. Ek het dit nooit heeltemal begrawe nie.”
In 2019 het Bester sy maatskappy geregis-treer en die lewe op seiljagte finaal gegroet om al sy tyd aan sy besigheid te bestee.
“Dit was nog voor die COVID-19 pandemie die wêreld getref het. Met draadlose tegnologie en toepassings wat algemeen beskikbaar ge-raak het, het die tegnologie dit uiteindelik moontlik gemaak om my idee prakties te implimenteer. Toe COVID-19 ’n realiteit word moes ons dit natuurlik aanpas om aan die onmiddellike behoeftes te voldoen.”
Die huidige formaat van die toepassing is om dit moontlik te maak vir gebruikers om alles op een plek te bestel: van wegneemetes tot kruideniersware asook drank (wanneer die wet dit toelaat). Plaaslike restaurante soos Jbay foods, Ocean Basket, Meat your needs, Brewhaha en Wimpy is reeds op die toep be-skikbaar. Tops, die drankwinkel by die Spar-groep, is ook op die toepassing, wat dit moontlik maak om enige alkoholiese drank vir tuis-aflewering te bestel (wanneer inperkings-regulasies dit toelaat).
Binne die volgende paar dae sal dit ook moontlik wees om kruideniersware te bestel.
“Ons kry baie versoeke van mense wat oorsee of elders in die land woon wat vir hulle ouers kruideniersware of wegneemetes wil bestel en laat aflewer. Hierdie toepassing maak dit vir hulle moontlik om hul ouers te beskerm sodat hulle nie in die huidige klimaat nodig het om winkels toe te gaan nie.”
Bester vertel dat die besigheid reeds uitgebrei het na Kaapstad en voor die einde van die jaar ook in Johannesburg, Pretoria en Gqeberha beskikbaar sal wees.
- Diginu kan op Google Play Store afgelaai word vir Android-toestelle en op iStore vir Apple-toestelle.

