Foto ter illustrasie

iStock

Danksy die paraatheid van ‘n huishulp het ‘n dief met leë hande – maar wel boeie om sy arms – by ‘n huis in Stormsrivier uitgestap.

Volgens Sersant Majola Nkhohli, polisiewoordvoerder, het ‘n gestoei tussen dié huishulp en ‘n man wat by die huis ingebreek het, ontstaan.

Op Dinsdag 9 November om sowat 05:45 was die huishulp besig met haar takies toe ‘n jong man (19) haar glo nader vir ‘n glas water.

Nadat die man daar weg is, het sy aangegaan met haar werk, maar oomblikke later het sy dieselfde man in die badkamer betrap.

“Die inbreker het glo probeer om ‘n skootrekenaar te gryp en ‘n stoeiery het tussen die twee uitgebreek,” het Nkohli gesê.

“Gedurende die gestoeiery het die huishulp die paniekknoppie gedruk, wat die sekuriteitsmaatskappy ontbied het.”

Die oortreder is buite die huis deur die sekuriteitsbeampte aangekeer nadat hy probeer ontsnap het.

Nkohli het voorts gesê dat die huishulp en haar 90-jarige werkgewer nie tydens die voorval beseer is nie.

“Die 19-jarige verdagte is in hegtenis geneem en sal binnekort in die Stormsrivier Landdroshof op ‘n klag van poging tot huisroof verskyn,” aldus Nkohli.

UITGEREIK DEUR SAPD

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article