So baie mense jaag so haastig op die N2 verby die Tsitsikamma sonder om te besef dat daar wolwe en wolfkruisings naby Witelsbos is en . . . dat ’n mens sommige van dié diere in die oog kan gaan kyk.
Wat ’n belewenis om die wolf van naderby te kan beskou en wat ’n verligting dat die omheinings so hoog is. Hoeka het een van die mannetjies naby die toegangshek elke keer grommens op sy hurke gesak, vir aanval wanneer Francette Jerling, administrateur van die toe-vlugshawe, verbyloop.
Dié aggressiewe gedrag steur Francette nie. “Hy beskou my as ’n indringer wat van buite af wil inkom. Hy beskerm sy pak.”
Tsitsikamma Wolf Sanctuary is in verskillende hoog-omheinde kampe verdeel en het die afgelope 21 jaar sedert sy ontstaan, al meer as 500 wolwe en wolfhondkruisings, wat óf mishandel óf verlaat is, ingeneem. Maar nêrens hoor ek ’n wolf huil of nog ’n ander grom nie. Sou die alomteenwoordigheid van berge dan troos aan dié diere bied?
“Hulle is nagdiere,” antwoord Francette glimlaggend, “kom hoor hoe klink dit saans”.
Dit is harde werk om deurlopend vir die wolwe te sorg. Die welstand van die diere geniet prioriteit, verduidelik sy, daarna dié van haar groentetuine waar spinasie, wortel, beet en wat nog groei.
“Ons is dankbaar dat ons uit die grond kan eet. Dit is ’n redding. Die pandemie-inperkings het ons toerisme-inkomste lelik geknou, die wolwe móét bly eet, so enige geld wat ons oorhet of inkry, gaan na hulle versorging,” sê Francette.
Deel van die versorging is om aanteel te voorkom, sluit Robin McDonald, direkteur van The Tsitsikamma Wolf Sanctuary, by Francette aan. “Wolwe hoort in die vrye natuur, nie ingeperk nie.”
Die kruisings
Tog was daar diegene wat geglo het dat ’n wolf/hond-kruising ’n goeie waghond en/of troeteldier sou maak. Onder meer het die Suid-Afrikaanse Weermag in die laat-1970’s ’n Siberiese gryswolfmannetjie met twee Duitse herdershondtewe gekruis.
Die hoop was dat hul nakomelinge deur middel van selektiewe teling tot skerper en sterker wolfkruisings vir gebruik in die Grensoorlog verder ontwikkel sou word. Die projek is in die vroeë of laat 1980’s laat vaar. (bron: Wolfkruisings in die Suid-Afrikaanse Weermag – Wikipedia)
“Een van die belangrikste redes hoekom wolwe/wolfhondkruisings nie werk nie,” verduidelik Robin, “is dat ’n wolf wild is. ’n Wilde dier tree instinktief op wanneer hy óf bedreigd voel, óf bevrees is, óf sy grondgebied wil beskerm, óf sy posisie in die pak wil bevestig óf wanneer ’n wyfie op hitte is. Eenvoudig gestel: ’n wilde dier, net soos die wolf of wolfkruising, se gedrag is onvoorspelbaar.”
Volgens Robin was daar ook mense wat in die sestigs wolwe ingevoer om te kyk of waghonde hieruit geteel kon word. “Die projek het nie gewerk nie. Daar was toe omtrent vyf wolwe ingevoer. Ongelukkig word wolwe nog steeds inge-voer. Dit is ’n aanhoudende probleem as gevolg van teling tussen hond en wolf. Mense doen dit vir eksotiese troeteldiere, as ’n mens dit só kan noem.”
Die eerste geredde wolf, haar naam was Nikita, is 21 jaar gelede by die Tsitsikamma Wolf Sanctuary ingeneem. Omdat daar toe nog nie enige ander toevlugshawe vir wolwe en wolfkruisings was nie, moes hulle die bloudruk daarvoor vestig, sê Robin.
Daarna het die toevlugshawe al hoe meer en meer wolwe en/of wolfkruisings ingeneem.
“Niks maak jou gereed vir hierdie nie – om diere te sien wat in die vrye natuur hoort, maar nou vir hul eie veiligheid in groot kampe gehou moet word.
Nie ’n goeie troeteldier
“ ’n Wolf of wolfhondkruising is in baie opsigte definitief nie soos ’n hond nie. Hulle is nie goeie troeteldiere nie. En as jy wel ’n wolfhond kry, weet jy nie of jy meer wolf as hond in die dier gaan kry nie. Dit is hoekom mense dan later afstand van hul wolwe of wolfhondkruisings wil doen.”
Op die oomblik bied Tsitsikamma ’n toevlugs-oord aan 35 wolwe en wolfhondkruisings.
Dis nogal ’n belewenis om van kamp na kamp te loop met Robin wat haar ongelooflike wolf-kennis met jou deel. Jy hoor van pakke wat gevorm word. Die Alfa-wolf wat die tropleier is, die Beta wat tweede in bevel is en die Omega op wie almal pik. Die Omega is die een wat die stres van die pak moet vat en dit absorbeer.
Robin se simpatie lê by die Omega wat só geboelie word, maar nooit sal sy inmeng met die werking van enige pak nie.
“Jy kan die Omega wegvat, dan sal hulle ’n nuwe Omega kies. Dit is in hulle natuur, jy kan dit nie verander nie. Dit is hoe hulle ook werk in die vrye natuur,” verduidelik Robin.
“Die egte wolwe hier by ons is die Grey Timber Wolves, die Noord-Amerikaase gryswolf. Gaan Google ’n bietjie hoe hulle natuurlike habitat lyk. G’n mens met ’n gewete sal hier in Suid-Afrika met hulle teel nie.”
Stilletjies is ’n mens wel dankbaar dat jy só ’n wolf van nader kan beskou en dat Robin al die afgelope 16 jaar haar wolf-kennis so vryelik met besoekers deel. Die streng pandemie-inperkings in 2020 het hul toerisme-inkomste oornag laat opdroog, tog het hulle die koste aangegaan om drie wolfmannetjies te laat steriliseer. “Ons moet dit doen om te keer dat nóg wilde diere in gevangenisskap gebore word. Die realiteit is dat wilde diere nie in ’n hok hoort nie.”
Op pad terug huis toe ry ek met ’n hart vol dankbaarheid teenoor instansies soos die Tsitsikamma Wolf Sanctuary wat ’n hawe aan wolwe en wolfkruisings bied en dat ek nader aan dié diere kon kom, maar bitterheid lê dik in my keel teenoor diegene wat vir die winsmotief wilde diere uit hul natuurlike habit haal en hulle in ’n mensewêreld laat aanteel.
Besoek Tsitsikamma Wolf Sanctuary
- Verskillende toegangspakette word aangebied, byvoorbeeld vir groepe groter as 8 en skoliere. Bel 082 9564175 vir meer inligting of besoek Tsitsikamma Wolf Sanctuary op Facebook. Die e-posadres is: tsitsikammawolfsanctuary@gmail.com
- Die GPS koordinate is: 23.99354E 33.98187S; die fisieke adres is Lot 510, Elandshoogte, Witelsbos, Tsitsikamma.




