Anton Botes, inwoner van Jeffreysbaai, het groot geword met ’n diep liefde vir die natuur en ’n groot belangstelling in treine en treinspore. Nou wil hy hierdie twee passies kombineer en hoop om ’n nuwe manier te vestig waarop toeriste die natuurskoon en unieke fauna en flora kan beleef.
Kouga Express het met hom gaan gesels om meer oor hierdie inisiatief uit te vind.
“Ek glo dit is vanweë my grootwordjare, toe ons naby ’n stasie, langs ’n treinspoor gewoon het dat die appeltreinspoor my so aanraak. Treine het my nog altyd fassineer.”
Die “Port Elizabeth to Avontuur line”, beter bekend aan plaaslike inwoners as die appeltreinroete, is in 1907 in gebruik geneem, genoodsaak deur die boere wat ’n vinnige manier benodig het om hul vars produkte op die hawe in Gqeberha te kry. Die hele roete is 283 kilometer lank, wat dit die langste smalspoorlyn in Afrika maak. Die spoor loop oor die ou Van Stadensbrug, wat dit, teen ’n hoogte van 78 meter, ’n ongelooflike uitkykpunt maak. Dit is die tweede hoogste treinbrug in Suid-Afrika en die hoogste smalspoor-treinbrug in die wêreld.
Anton het gedurende die laaste paar maande, op sy eie en saam met sy seuns, groot dele van die ou appeltreinspoor skoongemaak.
“Dit is baie toegegroei en verwaarloos, maar loop deur pragtige dele van die Kouga wat ’n mens op geen ander manier te sien kan kry nie.”
Anton vertel dat hy gereeld met sy seuns in hierdie omgewing gaan kamp en dat hulle dan dele van die spoor saam skoonmaak.
“Die idee is om mense uit hul huise te kry om die buitelug en die natuur saam as gesinne te geniet. Daarom het ek besluit om unieke trapkarretjies te bou waarmee mense op die spoor kan ry met my as gids.”
Daar is twee beplande roetes wat albei vanaf Thornhill vertrek. Die halfdagroete sal in die rigting van die Van Standensbrug loop en daar eindig. Die voldagroete is beslis vir diegene met meer murg in hul pype en gaan vanaf die Thornhill-stasie na die Loerie-stasie strek.
Botes vertel dat hy ’n twee- en viersitplekfietsie het sodat vriende, paartjies of gesinne aan die uitstappie sal kan deelneem.
“Hierdie trapkarretjies is my eie ontwerp vanuit my 18 jaar ondervinding as meganiese ingenieur. Dit is omgewingsvriendelik en hope pret!”
Botes vertel dat hy in hierdie stadium hulp benodig om die spoor verder skoon te maak en te beveilig. “Ek het gedoen wat ek kan, maar daar is plekke waar masjinerie nodig is om die werk gedoen te kry.”
Hy nooi enigiemand wat ’n passie vir die natuur het om by hom aan te sluit, sodat hierdie ambisieuse projek eindelik ’n realiteit vir die inwoners en toeriste van die Kouga-omgewing kan word. Belangstellendes kan hom kontak by 082 602 7934.



