Stefanie Kucera, museumbestuurder by Jeffreysbaai Skulpmuseum, verwelkom alle besoekers by die nuwe opgeknapte museum. Foto’s: Veronica Fourie


Van die kleinste mikroskulpies tot een van die grootste skulpe ter wêreld is in Jeffrreysbaai by die opgeknapte Skulpmuseum te sien.

By die groot gebou aan die seefront regoor die hoofstrand wag daar ’n wonderwêreld van seeskatte. Hier sal jy kan uitvind wat elke skulp se wetenskaplike naam en noemnaam is en waar hulle vandaan kom. Het jy geweet die nasionale skulp van ons land is die perlemoen? En dat Jeffreysbaai ’n besondere ryk verskeidenheid skulpe het?

Hier gaan jy nie net skulpe sien wat aan die Suid-Afrikaanse kus te vind is nie, maar ook eksotiese skulpe van elders in die wêreld. Van hulle lyk soos kant, ander het die mooiste patrone op en sommiges is toentertyd gebruik om die ryk kleur te verskaf vir adelikes se klere.

Party skulpe kom net in die diepsee voor en moet uitgeduik word. Sommige skulpe is dodelik giftig wat hul prooi verlam.

Een van wêreld se grootste skulpe word uitgestal wat vroeër deur die Aborigines in Australië gebruik is om tot 7 liter water te dra.

Een van die interessantste versamelings wat uitgestal word, is die mikroskulpies wat soms verkeerdelik as babaskulpies gesien word, hoewel hulle volwasse is. Sover bekend, is die Jeffreysbaai Skulpmuseum die enigste plek met so ’n versameling. Die bekende skulpversamelaar, Charlotte Kritzinger, se skulpversameling is ook hier te sien.

Die Skulpkundige vereniging het gehelp om elke skulp se wetenskaplike naam en besonderhede te verskaf. Daar is ook ’n uitstalling van die noemname van plaaslike skulpies, soos “babatoontjies”, “skattebol”, “skoenlapper”, “skurwejantjie”, “wit knopie”, “tossel”, “visoog”, en “varkie”.

’n Tweede deel van die museum is ’n kultuursentrum waar die geskiedenis van die Koi en Xhosa uitgebeeld word. Die skeepsgeskiedenis van die Oos-Kaapse kus is ook te sien.

Een van die vrywilligers van die museum, Petru Meyer, sê dat die hoofdoel van die museum is om op te voed en te bewaar.

“Ons kry goeie ondersteuning en ’n toelaag van die Kouga Munisipaliteit. Ons maak ook staat op vrywilligers met ’n passie vir skulpe en die omgewing om die museum in stand te hou.”

Meyer en haar span is ook betrokke by die twee begraafplase in Pelsrus wat maandeliks skoongemaak word. Hulle is besig met ’n projek om grafstene op te rig ter nagedagtenis aan vissermanne wat hier begrawe is.

Die Jeffreysbaai Skulpmuseum vorm deel van die Humansdorp Museum Vereniging. Daar is ’n verskei-denheid skulpartikels en boeke oor skulpe te koop. The sea shells of Jeffreys Bay deur Douw G Steyn en Elise J Steyn, is ’n volkleur versamelstuk en is slegs hier beskikbaar.

Die museumbestuurder, Stefanie Kucera, deel graag haar entoesiasme en kennis met besoekers.

“Ons is baie trots op die unieke museum wat bydra tot die karakter van Jeffreysbaai as die skulpiedorpvan die land. Ons verwelkom alle besoekers. Hier is iets vir oud en jonk.”

Besoekers kan die museum tussen 10vm en 4nm in die vakansietyd besoek, en Saterdae van 9vm tot 2nm. Toegang vir kinders is R5 en volwassenes R10.

Besondere noemname vir skulpe soos “varkie”en “tossel” word hier by die Jeffreysbaai Skulpmuseum uitgestal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article