Kowie Loots maak die kinders touwys met die gholfstokke.Foto: VERSKAF


KOWIE Loots is in die Kouga-gebied bekend as gholf-afrigter van formaat.

Van sy studente is aanvanklik skepties wanneer hulle hom vir die eerste keer sien, want die 54-jarige Loots is ná ’n fratsongeluk gestrem en gebruik net sy regterarm.

As jongeling het hy ’n passie vir sport gehad en het provinsiale kleure vir gholf, tafeltennis en o.20-rugby verwerf.

“Ek het ook voor die ongeluk vir 14 jaar OP-platteland met gholf verteenwoordig,” sê Loots.

Ná hy aan die Hoërskool Despatch gematrikuleer het, het hy vir ’n tyd lank professioneel gholf gespeel en ook afgerig.

“Ek het later ’n gholf-dryfbaan (driving range) in Johannesburg gekoop, maar het om finansiële redes besluit om die maatskappy “Ocean Cut Timbers” in Kaapstad te stig wat bloekomhout uitgevoer het.”

Hy het in daardie stadium steeds gholf gespeel, maar toe weer as amateur, en het die OP Platteland met ’n 4 plus-voorgee verteenwoordig.

Op die oggend van 9 Januarie 2009 was hy en sy werknemers in ’n plantasie naby Wolseley in die Wes-Kaap besig om te werk. Dit was toe dat ’n denneboom, wat se wortels gevrot het, omge-val het en Loots teen sy agterkop getref het.

“Dit was ’n totale fratsongeluk,” sê hy.

“Dit het gereën en ek het my selfoon laat val. Toe ek afbuk om dit op te tel, glip dit weer uit my hand, weer moes ek buk om dit op te tel en dit is ook die laaste ding wat ek daarvan kan ont-hou.”

Sy werknemers het inderhaas met hom na die naaste hospitaal in Ceres gejaag. Nadat hy gestabiliseer is, is hy per ambulans na die Mediclinic Panorama in Kaapstad geneem waar ’n brein- operasie op hom uitgevoer was.

Met ’n 5 cm x 5 cm gat in sy skedel en drie gebreekte werwels in sy nek was die prognose nie goed nie.

Maar hy het die operasie oorleef en vasberade en met die bystand van geliefdes en vriende het hy die lang herstelpad daarna aangedurf.

Sy breinfunksie het algaande verbeter, maar hy het nie weer die gebruik van sy linker-arm en -been ten volle terug gekry nie en moes hard daaraan werk om sy spraak te verbeter. Wonderbaarlik is sy sig nie deur die ongeluk aangetas nie.

Met sy lewenslus was daar egter niks mee fout nie. Hy het begin om rolbal te speel en het vyf jaar gelede na die Oos-Kaap teruggekeer en in Jeffreysbaai gaan woon waar hy begin het om volwassenes en kinders te leer gholf speel.

So suksesvol is hy daarmee dat hy nou as die “vyf minuut afrigter” bekendstaan!

Sy passie vir sport en behoefte om kinders uit agtergeblewe gemeenskappe in die Kouga-gebied gholfvaardighede aan te leer, het daartoe gelei dat hy onlangs saam met Albe van der West-huyzen (Jeffeysbaai) en Kelly-Ann Loots (Humansdorp) die Kowie Loots Gholf-akademie, ’n nie-winsgewende liefdadigheidsorgani-sasie in Jeffreysbaai gestig het. (Kelly-Ann Loots en Kowie Loots is nie verwant nie.)

“Ons het die akademie gestig om die kinders ’n vaardigheid aan te leer wat in die toekoms dalk vir hulle van waarde kan wees,” sê Van der Westhuyzen, bemarkingsdirekteur van die akademie.

“Met die akademie sal ek nie net die kinders leer gholf speel nie, maar ons glo ook dat dit hulle uit die strate én uit kattekwaad sal hou,” voeg Kowie by.

“Daar word ook beplan om ’n voedingskema hierby in te sluit om te verseker dat die kinders ’n maaltyd sal ontvang.”

Die bekendstelling van die akademie het verlede week in Jeffreysbaai plaasgevind.

“Ons is dankbaar vir die borge André Bosch, Nomads en Paul Zone wat die gholfstokke en -sakke en T-hemde geborg het asook die BP-motorhawe in Jeffreysbaai wat die eetgoed vir die geleentheid geborg het,” sê Kowie.

  • Enigiemand wat graag hierby betrokke wil raak, hetsy deur hulp of borgskap kan Albe van der Westhuyzen bel of WhatsApp by 071 559 3227 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article