Die rooi rose van die afgelope week se Valentynsdag het seker al begin verlep, die sjokolade opgeëet, die bederf-ete al vergete en sosiale media hartjies al gewis. Dit maak tog nie saak nie!
Ons is almal gek oor die liefde en romanse. Vir een dag fantaseer ons oor ’n geheime bewonderaar of ’n verrassing!
Rooi is die kleur van liefde, en dis mos die gunsteling kleur om aan te trek op Valentynsdag. Soos ook die dag met die rooi troue.
Jare gelede het ek as koerant-amateur-fotograaf sommer ook troufoto’s geneem. Meestal tweede en selfs derde troues.
Op ’n Sondagoggend bel ’n vreemde vrou en vra of ek nie gou na hulle huis kan kom op Uitenhage nie; sy en haar man trou vir die tweede keer met mekaar en wil “net ’n paar fototjies hê.”
Sy het uitgebrei oor sy streke en dat sy hom gelos het, maar dat hy darem nou in sy spoor trap. Sy het soos ’n wafferse Dolly Parton gelyk met geteasde hare, vals wimpers en lang naels. Die wit trourok het ’n groot strik op die boude gehad en uiterma-tige pofmoue. Ek moes haar ook in die soortgelyke koningsblou “going away” rok afneem.
’n Hele paar jaar later bel die vrou my weer – vir troufoto’s. Ek dog toe dis dalk nou tyd vir troufoto’s vir haar dogter. “Nee,” sê sy, “hy het mos weer met sy streke begin, toe los ek hom weer! Maar dié keer is dit for keeps,” sê sy tevrede.
Die troue is op Valentynsdag. Ek verwag iets buitengewoon. Ek tref haar in die kamer voor die spieël aan, besig om die dun skouerbandjies van haar helder rooi trou-rok oor haar mollige skouers te sukkel. Die vol figuur bult oral!
Ek is nou veronderstel om te sê: Oe! Jy lyk pragtig! Maar ek kry nie ’n woord uit nie. Ek help eerder om die rooi gedoente vas te trek om haar…wel…middel. Die poffer voete sukkel soos ’n wafferse Aspoestertjie in die hoge rooi polvye.
Die arme man. Hy kom jaag haar aan, anders gaan hulle laat wees! Ek kan nie die rooi strikdas, rooi sakdoek en rooi band om sy paaseier lyf mis nie. Die wit broek sit ook nie nice nie.
Later by die onthaal kry elke gas ’n rooi opgestopte hart wat sy self gemaak het – selfs ’n kant randjie. Dis rooi ballonne, papierlinte, harte en servette waar jy kyk!
“Ja,” sê sy met styfgetrekte rooi besmeerde lippe, “Valentimesdag is mos rooi!”
Sy hou haar (derde) man met mening was en ek wonder wanneer wip haar Dolly-bates uit. Sy beduie met skerp rooi naels en haar bruidsruiker van nagemaakte rooi blomme na die musiekman.
“Laat waai daar met ‘die Rooirok’! “
Ek glimlag steeds as ek die rooi spelde-kussing gebruik.




