Vir inwoners van Jeffreysbaai is dit nie vreemd om sporadiese waterprobleme te ondervind nie. Bruin water, pype wat bars en ongevraagde neerslae binne-in ketels is al jare klein irritasies waarmee Jeffreysbaaiers saamleef.
Oor die algemeen is dit te verstane – die dorp het in die laaste vyftien jaar eksponensiële groei beleef waarvoor die infrastruktuur nie aanvanklik aangelê is nie. Tog is die waterkwaliteit tans van só ’n aard dat dit inwoners se lewenskwaliteit drasties negatief beïnvloed.
Alledagse take soos wasgoed was, kook en bad moet rondom die beskikbaarheid van skoon water geskeduleer word.
Ilze Geldenhuys, inwoner en besigheidseienaar, het haar frustrasie rondom hierdie kwessie uitgespreek. “Ek kan nie meer wit wasgoed of linne koop nie. Baie van ons klere is ongelukkig gevlek en onherstelbaar beskadig deur die kleur van die water.”
Alichia van Zyl, inwoner en voormalige gesondheidswerker, deel die volgende frustrasie met talle Jeffreysbaaiers, “Ons moes ten duurste ’n waterfiltreringstelsel in ons huis laat installeer om gesonde drinkwater vir ons gesin te verseker. Ek kan net eenvoudig nie vertrou dat water wat só kwaai verkleur veilig en gesond is om vir my kinders te gee nie.”
Kouga Express het ook met Francois Pretorius, wykskommiteelid, wat al die afgelope vyf jaar in sy wyk as skakel tussen die gemeenskap en die wykraadslid optree, gaan gesels.
“Daar is twee verskillende klagtes oor die water in Jeffreysbaai. In Seeplek, Astonbaai, Paradysstrand en onderdorp is die probleem dat die water helder vertoon, maar uiters sleg proe en ruik. Wanneer ons saans wil bad of stort ruik dit soos ’n moeras – hoe warmer die water word, hoe slegter is die reuk.
“Die mense in die boonste gedeelte van Wavecrest kla oor bruin water, maar die water ruik nie sleg nie.
“Die water van hierdie areas kom, volgens inligting wat ek van Kouga Munisipaliteit ontvang het, van verskillende bronne. Wavecrest se water is afkomstig van boorgate, terwyl die water wat sleg ruik en proe vanaf Nelsonmandelabaai kom. Ná aanleiding van die waarskuwing wat in Februarie deur die NMB uitgereik is dat die water vir ’n tydperk ondrinkbaar was, is dit uiters kommerwekkend dat Jeffreysbaai deurgaans deur Kouga Munisipaliteit verseker word dat die water wel veililg is vir menslilke gebruik.”
Pretorius vertel dat dié ernstige probleem met die water in die Seeplek-area reeds Desember kop uitgesteek het en sedertdien net vererger het.
“Ek het op 23 Desember 2021 vir die eerste keer ’n lid van die gesondheidsdepartement by my huis gehad sodat hulle sélf die erns van die probleem kon beleef. Daar is in Januarie 2022 watermonsters geneem vanuit ons wyk en dit is gestuur vir ontleding.”
Voorts sê Pretorius, “Die verslag wat ek ontvang het ná aanleiding van die versameling van die monster stel my nie tevrede nie, aangesien die datums daarop nie klop nie. Die datum waarop die monster blykbaar versamel is, word op die verslag aangedui as na die datum waarop die labrutorium dit ontvang het. Dit dui op ongerymdhede en ongeloofwaardigheid. Volgens hierdie verslag is die water egter veilig om te drink.
“Daar is op 24 Februarie ’n tweede monster geneem en ons wag nou vir die uitslae daarvan. Vergaderings met rolspelers by die munisipaliteit is geskeduleer en ons kan net hoop dat daar iets van sal kom.”
Op navraag van die Kouga Express het Charl du Plessis, Munisipale bestuurder die volgende kommentaar gelewer. “Onlangse toetse het die teenwoordigheid van Mangaan in die water vanuit die nuwe boorgate by die Jeffreysbaai-watersuiweringseenheid gewys. ’n Besluit is geneem om tydelik die gebruik van dié boorgate te staak totdat addisionele behandelingsprossesse tot die prosess toegevoeg kan word om die Mangaan te behandel.”
Ná verdere navraag het Du Plessis wel bevestig dat Jeffreysbaai se water veilig is om te drink, maar geen onderskeid getref tussen die verskillende areas nie.



