Studente moet herwinbare materiaal gebruik om hul vlotte mee te maak. Foto: VERSKAF


DIE Jbay Technical College hou een keer per jaar ’n gewilde pretdag vir die studente in die vorm van “alles-wat-dryf” kompetisie op vlotte. Die vlotte moet met herwinbare materiaal gebou word.

Die doel van die “alles-wat-dryf” is om die aspirant ingenieurs in oplei-ding te leer om te dink hoe om planne te maak, veral omdat al die vlotte met herwinbare materiaal gebou moet word. Vanjaar word die vlotte op 17 Maart vanaf 08:00 by Wacky Water Park gebou. Dit word dan daar gestoor en die resies is die volgende dag op 18 Maart wanneer die verskillende spanne teen mekaar meeding.

Magda Pietersen, JBay Technical College administrateur, sê die studente werk in spanne van twee en dit leer ook spanwerk. Die verskillende spanne leen ook materiaal wat hulle kortkom by mekaar en dit leer hulle om te deel en ondersteun.

“Die resies is groot pret. Die spanne moet eers deur die hindernisbaan van die Wacky Water Park gaan en die span met die beste tye mag eerste wegspring en roei. Daar is natuurlik hindernisse in die water wat die spanne pla om moeilik hulle teikens af te haal en vinnig by die eindpunt te kom. Die span met die beste tye wen en kry ’n trofee wat deur twee van ons studente ontwerp en gemaak is,” verduidelik Pietersen.

Sy het ook bygevoeg dat hulle borge benodig omdat hierdie ook ’n fondsinsameling ten bate van die kol-lege is.

“Die Jbay Technical College is nie staatsgesubidieer nie en daarom is ons vir alles op ons self aangewese. Met die vorige “Alles-wat-dryf” het studente borgvorms gekry vir borge vir hul vlotte en met die fondse wat daaruit gegenereer is, het ons tafels laat maak en stoele gekoop vir die eksamensentrum.”

Ná die kompetisie is daar ’n braai vir die studente waar hulle mekaar beter kan leer ken. Volgens Pietersen is daar heelwat nuwe studente wat elke trimester inskryf.

“Elke trimester is ongeveer 10 weke en ’n jaar se werk word in die 10 weke behandel. Ná elke 10 weke trimester is daar ’n nasionale eksamen van ongeveer twee weke. Die klasse word aangebied vanaf N1-N6 in siviel-, meganies- en elektriese ingenieurswese.”

Vir meer inligting kontak Magda Pietersen op 082 4122 696 of stuur ’n e-pos na techadmin@jbayacademy.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article