Hierdie klomp Pronkers is besig om die tuin voor die poskantoor op te knap en te verfraai. Dis deel van die projek om die pragtige dorp op te kikker. Van links is Nadia du Preez, Henfred Williams, Cedric Witbooi, Janine du Preez, Cato Pasques, Bryan Dhludhlu (Jeffreysbaai – Dorp van Drome) en Carin Scheepers.

Foto: Verskaf

Daar heers groot opgewondenheid en entoesiasme in die mooie Gamtoosvallei, ondanks die uitdagings van die droogte. Die dorp is besig om ’n gedaanteverwisseling te ondergaan met die hulp van die ywerige inwoners en sakeondernemings.

Patensie Pronk is ’n projek wat gevorm is om die gemeenskap bymekaar te bring. “As almal hande vat kan ons iets moois en positief saam skep. Ons wil baie graag ons mooie vallei skoon, netjies en veilig maak vir sy inwoners en besoekers. Ons dorpie is baie spesiaal en ons wil graag hê die gevoel moet weerspieël word in die voorkoms van die dorp, bekend vir sy sitrus, groente, gasvryheid en natuurskoon,” sê Nadia du Preez, voorvatter by die Patensie Pronkers.

Betrokkenheid

Hulle het goeie samewerking van verskeie sektore in die vallei: die vrouens van Patensie, sakeondernemings, boerderye, skole, Gamtoos Toerisme, God se Hande (herwinningsprojek in Ramaphosa) en die Kouga Munisipaliteit. Hulle kry ook baie ondersteuning van Jeffreysbaai se Dorp van Drome wat al ondervinding het met dié soort van projekte – wat eindelik ook gelei het tot die titel van “Dorp van die Jaar”.

Samewerking

Daar is reeds begin aan ’n paar projekte soos die versiering voor die poskantoor, en die ingang na die Ramaphosa-woonbuurt. “Die projek is nog baie nuut en daar is nog baie plek vir verbetering, maar almal is bereid om te help en te ondersteun! PSB – Patensie Citrus stel weekliks twee manne beskikbaar om ons te help met opruiming. Mense skenk ruimhartig vir ons plante en grond. Die Munisipaliteit se steun is van onskatbare waarde deurdat hulle so gou as moontlik vullis verwyder,” sê Du Preez.

Projekte

Daar word eers begin met die tuine van die dorp. “Ons maak tans die tuine skoon en beoog dan om inheemse waterbespa-rende plante te plant. Verskeie vrouens van die vallei is dan verantwoordelik vir verskeie tuine. Tannie Hilda Ferreira het vir jare lank ons tuine vir ons mooi gemaak en dit is tyd dat ons die tuine ter ere van haar mooi maak, sodat sy dit uit die hemel kan geniet. Haar kleindogter, Alise Engelbrecht, is juis ook deel van die Patensie Pronkers,” sê Du Preez.

Behalwe die verfraaiing van die tuine, poog die Pronkers ook om die dorp te beveilig en verbeter vir die inwoners. Volgende projekte sluit in: die plasing van vullisdromme in die dorp, straatslote vir stormwater, openbare toilette, verbetering van die gesinspark, om die elektrisiteitsdrade reg te maak, padname en straatborde regmaak en vernuwe, bankies aan te bring, die treinstasie reg te maak en tot sy reg laat kom, strate te verbeter en die dorp as geheel op te kikker met die hulp van die munisipaliteit.

“Ons wil ook graag die dorpie opwindend maak met kuns en kultuur deur mure en afgeleefde strukture te verfraai met kleur en patroon. Ons sal gebruik maak van die herwinningsmateriaal deur “God se Hande projek” te ondersteun en op so manier ook teruggee aan ons gemeenskap. Ons voel baie passievol daaroor om ons eie local besighede te ondersteun en te gebruik vir die vernuwing,” sê Du Preez.

Die projek word befonds deur donasies en ondersteuning van die gemeenskap. Du Preez sê: “Ons het almal se hande, entoe- siasme en gebede nodig om hiervan ’n sukses te maak. Elkeen se bereidheid en betrokkenheid is waardevol. Kontak ons gerus indien jy wil help. Stuur ’n epos aan patensieislekker@gmail.com, of skakel Nadia du Preez by 083 968 6149.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article