Die vloede in KwaZulu-Natal en voortvlugtendes in die Oekraïne laat my daagliks wonder wat die mense gryp om mee te vlug as hulle moet ontruim. Dis so traumaties en die skok is groot – ek wonder of mens omgee wat jy sal gryp en wat alles agterbly.
Oorlewing is seker die enigste gedagte.
Ek lees die Wêreldgesondheidsorganisasie sê minstens 3 000 mense is reeds dood omdat hulle nie toegang gehad het tot medikasie vir chroniese siektetoestande nie.
Die afgelope tyd het ek heelwat mense gevra wat hulle sou doen, en dikwels kom die antwoord: “nee gits jong, ek weet nie, nog nie so gedink daaraan nie.”
In my joernalistieke loopbaan van oor die dertig jaar moes ek talle kere aanskou hoe mense verslae eenkant staan en die vernietiging van hul huis of onderneming verstom sien afbrand.
“Ons het gedink dis nie so erg nie, dat daar nog tyd is…”. Maar dan kom die oomblik dat jy moet vlug!
Met die luukse grasdakhuise wat destyd by Kaap St Francis deur ’n brand vernietig is, was dit op almal se lippe: wat kon jy red?
Die meeste het werklik net gevlug vir hul lewe, en troeteldiere saamgeneem.
Ná ’n paar weke tydens ’n opvolgstorie sê van hulle: “Maak seker jy neem jou dokumente, want dis ’n nagmerrie by Binnelandse Sake! Verder moet jy foto’s, herinneringe gryp.”
Dit hang seker af van verskeie faktore…Van my vriende sê hulle sal foto’s gryp, of juweliersware, boeke, kunswerke, beddegoed, klere, medisyne en troeteldiere. ’n Besondere vriendin sê sy sal sonder twyfel haar aandklere eerste gryp!
Niemand beplan ’n ramp nie, en hoop stilletjies dit sal jou nooit oorkom nie. Maar sê nou net?
Oor heelwat dinge in die lewe het ons nie beheer nie, maar dalk kan jy solank ’n plan maak.
Ek reken ek sal met ’n medium-grootte tas regkom. Daarin sal ek beslis my foto’s pak. Hulle is reeds bymekaar gebêre.
Dan my potloodversameling van meer as vyfhonderd en my spesiale inkleurkryte. Miskien die skootrekenaar, en beslis die selfoon en laaier. Medisyne sal moet in.
As daar plek is, sal ek ’n paar plakboeke ingooi (oeps! ek beter hulle op datum kry). Dan sal ek ’n kombers om my skouers gooi, ’n waterbottel gryp in die handsak gooi, en my liefste brakkie onder die arm hou.
Die heel belangrikste sal reeds in die handsak wees . . . dis my rooi lipstiffie.
Daarmee sal ek kans sien om voor vlamme, water, wind en storms te vlug. Dis die mooie Marilyn Monroe wat gesê het, “Put on your red lipstick, and deal with it!” Dis nou tong in die kies.
Dis ontstellend om te dink aan ouers in Oekraïne wat met klein kindertjies moet vlug, na wie weet waar. Met niks. Net die klere aan hulle lywe.
Vir hulle was daar nie eers ’n tas om te pak nie. Hulle moet gestroop die vreemde in.
Herinneringe van hulle goeters – dalk ’n pop, karretjies, storieboek, speletjies of vrylik rondhardloop – is al wat in hulle harte kan pas.



