In vandag se tye wanneer jy omtrent elke keer ’n ligte hartaanval kry as jy lees dat die petrolprys alwéér gestyg het, is dit sekerlik normaal om ietwat lighoofdig van opgewondenheid te raak as jy hoor dat die Suzuki Celerio glo net 4.2l/100 km gebruik.
Om dié rede alleen was dit dus onlangs ’n heuglike gebeurtenis om dié motortjie vir ’n paar dae te kon toetsbestuur.
Die Celerio is een van daardie voertuie wat ’n “woerts-warts-motortjie” genoem kan word.
Dis so klein en rats – dis net “woerts”, dan is jy in die straat af en “warts” dan parkeer jy.
Jy hoef nie te wonder of die motortjie in die parkeerplek gaan inpas nie of bekommerd wees dat jy die ou langs jou se deur van sy luukse motor gaan raakslaan as jy jou deur dalk te groot oopmaak nie.
En as jy dalk op ’n randsteen vir welke rede ookal by ’n sypaadjie moet opklim of as jy daardie baie slaggate in die pad moet dodge and weave (natuurlik verkieslik baie stadig), wees maar gerus, die Celerio is 170 mm van die grond af en behoort nie te skraap nie!
Dis regtig een van die groot plesiere in die lewe om in ’n Celerio in die stad, of ’n dorp, rond te rits.
Hou in gedagte dat dit nie ’n luukse motor is nie, maar die nodige – soos lugverkoeling en ’n raakskerm waar jy jou radio kan verstel of jou selfoon kan konnekteer, is daar. Maar soos die raakskerm ook dan waarsku, moet nou nie daaraan peuter terwyl jy bestuur nie!
Spasie? Nou ja. dit sal ’n bietjie simpel wees om die Blou Bulle se agttal in die Celerio te probeer druk, maar dit is ’n ideale motor vir enkellopendes, pasgetroudes, jong gesin (met min bagasie) of afgetredenes.
Daar is wel genoeg beenspasie vir twee volwasse mense op die agterste sitplek, dus is die Celerio ook ’n gewilde Uber-motor.
Die bagasieruim is maar skraps, maar jy sal jou koelboks met ’n vleisie en ’n paar koeldrankies heel gemaklik daarin kry. Of as jy iewers moet oornag, jou tas (nie kas nie)!
Soos reeds vermeld, is die Celerio gemaak vir die stad, maar jy sal wel kom waar jy wil wees as jy sy neus op die langpad sit.
Wees net gewaarsku dat die 49 kW/89 Nm 1.0-liter 3-silinder-enjin nou maar ’n bietjie gaan raas as jy oor die Drakensberge gaan ry of as jy die spoedgrens gaan probeer breek.
Dalk is dit, met die baie verkeerskameras langs ons paaie, in elk geval nie ’n slegte idee om binne die spoedgrens te bly nie.
Om op te som, die Celerio is nou al wel sedert 2016 met ons, maar die vervaardigers het daarin geslaag om die nuwe model mooier en beter te maak!
Die prys is ook bekostigbaar, maar besoek eerder ’n handelaar om daaroor navraag te doen of besoek https://content.suzukiauto.co.za/suzuki-celerio vir meer inligting.




