Foto ter illustrasie.

Foto: Max Rubner Institute

Die Tsitsikamma gebied is bekend vir melkboerdery. Leerders van hier – wat in die bedryf belanggestel het – moes altyd aan die agterspeen suig en ver weg gaan na landbouskole.

Nou bied die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp, in vennootskap met die AgriSeta ’n kursus in melkboerdery aan.

Dit is ook geregistreer by die QCTO (Quality Council for Trades and Occupations) as ’n nasionale kwalifikasie, en is geakkrediteer deur die Melkprodusente Organisasie Opleidings -instituut.

Die Hoërskool Nico Malan is die eerste skool in die land wat dié geleentheid bied vir leerlinge. Dit bied hulle ’n NGF vlak 3 kwalifikasie om te kwalifiseer as suiwel-toesighouer. Leerders kan net vyf bykomende modules doen om NGF vlak 5 te behaal om te kwalifiseer as suiwel-plaasbestuurders.

“Ek en skoolbeheerliggaam-lid Christo Joubert het besef hier is ’n groot behoefte vir landbou-opleiding, veral in die melkbedryf. Maar dis ’n reuse-taak om dit te vermag. Met die kursus is dit ’n makliker manier om leerders die kans te gee om nie net ’n matrieksertifikaat te verwerf nie, maar ook dié sertifikaat,” sê Hanko Smit, onderwyser by die skool. “Ons het koppe bymekaargesit met die MPO Opleiding Instituut oor ons behoeftes, en hulle standaarde. Dit vul nou ’n groot leemte in die omgewing.”

Leerders doen die kursus in hul eie tyd by die huis of in die koshuis op die rekenaar, bo en behalwe hul normale skoolwerk. Hulle woon normaalweg skool by.

Dit sluit modules in oor onder meer die be-dryf, produksie, voeding, leierskap, die praktyk en dieregesondheidsorg.

Die kursus betaan uit teorie wat sowat 30% van die kursus uitmaak, werkservaring wat 35% van die kursus is, en dan nog die praktiese ervaring en uitvoering van take.

Daar is reeds vyf seuns en vyf meisies wat die twee-jaar aanlyn-kursus in samewerking met die skool en boere van die omgewing aan-gepak het. Ses boere het ingestem dat leerders prakties op hulle plase kan doen. Die boere is geakkrediteer en moet die leerders assesseer.

Leerders sal gedurende vakansies die prakties op omliggende plase doen. Alle teorie is aanlyn en word op eie tyd gedoen.

Die skool het die oorspronklike een-jaar-kursus aangepas na twee jaar om aan te pas by die skool se aktiwiteite. Daar gaan ook korter kursusse aangebied word soos kunsmatige inseminasie en trekkers.

Daar is reeds gevorderde planne om dieselfde te doen vir die sitrusbedryf.

Kontak Hanko Smit by 078 249 0825 vir meer besonderhede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article