Benita Baldie van Huis Formosa op Joubertina, het op 11 Oktober haar 100ste verjaarsdag gevier.

Foto: Verskaf

Hoërskool McLachlan het sy deure in die Langkloof gedurende 1912 geopen en tien jaar later, in 1922 is Benita Baldie gebore, wat haar tans die oudste oud-leerling van dié skool maak.

Met Baldie (néé Ferreira) se 100ste verjaardag op 11 Oktober, het Hoërskool McLachlan se graad 3-klas, onder leiding van onderwyser Tania Potgieter, vir haar gaan sing en blomme geneem.

Baldie is ’n inwoner van Huis Formosa op Joubertina waar matrone Annelie Scheepers dié spesiale verjaardagpartytjie in samewerking met personeel en vriende vir Baldie gereël het. Ds. Henry Roberts van NG Kerk Joubertina het ’n kort boodskap gelewer asook ’n bos blomme aan Baldie oorhandig.

Baldie is op Krakeelrivier gebore en het haar skoolloopbaan by Laerskool Krakeelrivier begin en is later na Hoërskool McLachlan. Daarna het sy haar as onderwyseres bekwaam by die destydse Stellenbosch Training College en teruggekeer na die Langkloof, waar sy op Misgund begin skoolhou het.

In 1943 is sy met Donald Baldie getroud en hulle het een dogter, Berryl, gehad.

Volgens matrone Scheepers het Baldie die mooiste handskrif en het sy dit nog altyd geniet om briewe te skryf. Sy speel graag klavier, lees en geniet dit om radio te luister.

– UITGEREIK: HUIS FORMOSA

Van links is Linda Baldie, Benita Baldie en matrone Annelie Scheepers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article