Isaac Daniels van Humansdorp is ’n bekende inbeller om Chappies.com vrae op RSG te beantwoord.

Foto: Verskaf

Isaac Daniels ’n 65-jaar-oue Emeritus-leraar, is bekend aan diegene wat gereeld na die radiostasie RSG luister. Wat min van dié luisteraars weet is dat hy die afgelope 30 jaar in Arcadia, Humansdorp woon.

Isaac is omtrent elke dag op RSG se program “Alhoebekker” met Amore Bekker te hoor, want hy is een van die top-inbellers vir Chappies.com, ’n vasvra-kompetisie.

Toe daar aan hom gevra is hoe dit gebeur het dat hy begin het om in te bel vir Chappies.com het hy gesê, “RSG speel 24/7 in ons huis. Op ’n dag toe die luisteraars gesukkel het met ’n sportvraag, het ek besluit om in te bel.

“Die antwoord was Darryl Cullinan en ek het die antwoord geken want hy kom van dieselfde omgewing waar ek vandaan kom. My antwoord was reg en ek was vir die eerste keer die Chappies.com kaptein.”

Dit was gedurende die grendeltydperk wat hy vir die eerste keer ingebel het. Sedertdien mis hy nie ’n Chappies.com nie. Oor sy algemene kennis sê Isaac, “Nee ek is nie slim nie, ek kan net goed onthou. Ek is mal oor blokkiesraaisels en lees baie en dan sien ek elke moontlike Chappies vraag in elke berig of artikel.

“Só berei ek my voor vir Chappies en antisipeer ook moontlike vrae uit die gebeure van elke dag. Geskiedenis was my geliefkoosde vak en ek sal ook teruggaan en kyk wat het op ’n bepaalde dag gebeur.

“Ek koop ook graag Chappies kougom om die vrae op die binne-kant van die papiertjie te lees.”

Daar is omtrent ’n span van ge-reelde Chappies.com inbellers en hulle herken mekaar se stemme en antwoordstyl.

“Op ’n dag toe ek weer Chappies-kaptein was het ek my wen opge-dra aan Jan van Knysna. Hy het ook gereeld ingebel, maar het ons ontval.

“Wanneer ek ná Stevie, Ivor en Neil in die inbelry is, sit ek maar die foon neer want dit is weinig dat hulle nie reg is nie.”

Isaac sê Amore is sy gunsteling radio-omroeper en hy geniet dit om met haar te praat. Willem Pelser is sy ander gunsteling omroeper.

“Ek sal baie hartseer wees as die dag aanbreek dat daar nie meer ’n Chappies.com op Alhoebekker is nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article