Die Jubelkoor wat groot naam gemaak het as ’n uitmuntende koor.

Foto: Verskaf

Die Jubelkoor wat groot naam gemaak het as ’n uitmuntende koor.

Dit was haar kleindogtertjie droom op Sutherland om ’n musiekjuffrou te word. En nou, na ’n luisterryke musiekloopbaan kyk sy met vervulling terug na die droom wat bewaarheid is.

Annatjie Smit (78) was 56 jaar lank orrelis by verskeie gemeentes, maar sy was vir 23 jaar die orrelis en koorleier van die Jubelkoor. Sy verwys goedelik daarna as die ‘Babbelkoor’.

“Die koor bestaan meestal uit bejaardes en was eintlik soos ’n omgeegroep waar ons in mekaar se lief en leed gedeel het. Dit was een van die grootste kerkkore in die land met optredes dwarsdeur die jaar,” sê Annatjie.

“Ek sal dit só mis om die gemeente te begelei en die koor af te rig. Gemeentesang is vir my altyd soos ’n ensemble voor die Here.”

Ervarings

“Ek was bevoorreg om na my studies aan die Universiteit Stellenbosch, op Sutherland te kon aflos as orrelis.”

Intussen het baie jare verbygegaan en Annatjie het by duisende troues, begrafnisse en eredienste orrel gespeel. En net soveel preke aangehoor!

“Ek het ’n groot verskeidenheid hoede en handskoene gehad toe dit destyds die reël was om te dra.

“Orals waar ons gewoon het, het ek ’n koortjie gehad en orrel gespeel. Soms was daar net ’n handjievol lede, maar ons het gesing.

“’n Hoogtepunt in my lewe was beslis om ’n massakoor, soos vroeër vanjaar by die kompleks, te lei.” Die Jubelkoor het vier CD’s gemaak en talle kere op uitnodiging in die Veremarksaal en by buurgemeentes opgetree.

Orrel en koor

“Die orrel moet nooit vergaan nie en behoort altyd deel te wees van die erediens. Dis ’n orkes-instrument en word gereken as die koning van instrumente. Dis ook my wens dat die koor sal voortgaan – dit lewer eintlik ’n getuienis en ’n belangrike bydrae in die erediens,” sê Annatjie.

Dit verg ’n besondere persoon om vir soveel jare met passie, toewyding, geduld en diplomasie ’n koor aan die gang te hou.

“’n Mens moet genoeg musikale kennis hê en goeie menseverhoudings, veral met die koster en predikant. Met bejaardes moet die koorleier ’n ander aanslag hê as met ’n kinderkoor.”

Toekoms

“Toe ek vroeër vanjaar ’n toekenning van die Suid-Afrikaanse kerkorreliste-vereniging vir my 55 jaar se bydrae in kerkmusiek ontvang het, het ek begin dink dis tyd om my plek voor die orrel te verlaat.

“Ek gaan nou my energie aanwend vir my familie en veral my kleinkind in Kleinbaai. Ek lê die tuig neer met vrede, vreugde, dankbaarheid en liefde.”

Sy hoop egter om steeds af en toe voor die orrel in te skuif om af te los.

Goeie wense

Die gemeenteleier van die NG-gemeente Jeffreysbaai, ds. Joe van Rensburg sê dis hartseer om Annatjie Smit te groet en respekteer haar keuse om uit te tree.

“Sy is ’n vrou van uitnemendheid en alles waaraan sy raak verander in sukses. Met haar liefde en passie vir die orrel het sy ’n sterk fondasie in die gemeente gelê waarop ons kan voortbou,” sê ds. Van Rensburg.

Die voorsitter van die koorkomitee, Myra Bosch, het hulde gebring aan Smit en sê, “Sy is ’n briljante orrelis, het ’n fyn sin vir humor, is professioneel en baie geliefd by die koor en gemeente.”

  • Annatjie Smit sal haar laaste buiging maak tydens die kerssangopvoering van die Jubelkoor op 4 Desember om 18:00 in die kerkkompleks.
Annatjie Smit, orrelis van die NG-gemeente Jeffreysbaai, tree na 23 jaar diens uit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article