AfriForum se Jeffreysbaai-buurtwag het onlangs saam met verskeie rolspelers soos Exec Ops, ADT, G4S-sekuriteitsdienste en die plaaslike polisie ’n gesamentlike patrollie vir bewusmaking gehou.
Daar het altesaam sowat 15 voertuie en 22 mense aan die patrollie deelgeneem. ’n SAPS K9-eenheid voertuig van Humansdorp sowel as twee misdaadvoorkomingsvoertuie van die plaaslike polisie was onder die deelnemers.
Die patrollie het om 18:00 begin en tot 20:30 geduur. In hierdie tyd is daar 510km afgelê. Die patrollie is as ’n groot sukses beskryf aangesien dit die sigbaarheid van die veiligheidstrukture bevorder het.
“Die meeste van die inwoners se bekommernis is veiligheid. Daarom is dit vir ons belangrik om alle rolspelers te betrek en goeie samewerking te bewerkstellig sodat ons die misdaad kan stopsit,” sê Wikus van der Walt, distrikskoördineerder vir AfriForum Oos-Kaap.
“Die tak wil graag samewerking met plaaslike owerhede en ander rolspelers bevorder. Ons wil ook self moue oprol om saam probleme uit die weg te ruim,” sê Van der Walt.
Inwoners van Jeffreysbaai word aange-moedig om by dié tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap te help maak.
- SMS “Oos-Kaap” na 45350 (R1) om aan te sluit.
– UITGEREIK DEUR AFRIFORUM OOS-KAAP




