Swart Vrydag het die inkopielus behoorlik losgemaak vir die vakansie- en kersseisoen. Dis verstommend hoe mense van een winskopie na die ander skarrel.
Geskenke is elke jaar ’n kopseer vir talle mense. Om die regte, geskikte geskenk te soek wat ook nog by die begroting pas, is uitdagend. Ek hoor gereeld in geselskap hoe ouers praat van die groooot en duuuur present wat hule vir die kinders gaan koop.
Natuurlik is dit vir elke mens wonderlik om ’n present te kry! Dit behoort eintlik lekkerder te wees om iets te géé, as te ontvang. Die ding is nou net dat mense dikwels ’n verwagting het van ’n geskenk, en sukkel dan om die teleurstelling te verbloem. Dis nou hier waar ons ons kinders kan leer hoe om bedagsaam te wees en ’n geskenk met dankbaarheid te ontvang – al is dit wát.
Die prys en grootte van ’n geskenk kan beslis nie ’n aanduiding wees van iemand se liefde of agting nie.
Ek het een keer by ’n kersmark ’n koeponboekie gekoop. Elke koepon het ’n ‘diens’ of ‘guns’ opgehad. Die ontvanger van die koeponboekie kan dan enige tyd van die koepons aan die gewer gee in ruil vir die diens of guns daarop. Dit wissel van sterre kyk op ’n kombers, ontbyt in die bed, ’n voetmassering, tot om die kinders op te pas vir ’n middag, saam te gaan fliek of onverdeelde aandag vir ’n kwartier.
Niks hiervan kos geld nie. Net tyd, wat kosbaar is. Eintlik onbetaalbaar duur is.
Sal dit nie wonderlik wees as ons dié Kersfees vir mekaar eerder tyd gee nie! So ’n koeponboekie met beloftes wat jy onderneem om na te kom. Ek kan dink hoe kinders se boekie kan lyk: speel saam met my bal, swem saam in die see, kuier by ouma, lees ’n storie, kyk saam ’n fliek…..Ons kinders wil so graag ons tyd hê.
Dis ook waar dat kinders, en grootmense, meestal vergeet wat hulle as geskenke gekry het. Maar hulle onthou die samesyn, die saam eet en grappies en geselligheid, speel met neefs en niggies, en partytjies se musiek. Die onvoorwaardelike aanvaarding van almal saam.
In die boek Tuesdays with Morrie skryf Mitch Albom hoe hy weekliks dié siek professor besoek en van sy wyshede. Morrie sê: “Giving to other people is what makes me feel alive. When I give my time, when I can make someone smile after they were feeling sad, it is as close to healthy I will ever feel! Offer others what you have to give. I don’t mean money, but your concern, your storytelling.”
Morrie noem voorbeelde van kaartspeel saam met ’n eensame persoon, om bejaardes te help om ’n nuwe selfoon of rekenaar baas te raak of vir ’n siek persoon te gaan inkopies te doen.
Hiervoor het jy nie groot talent of geld nodig nie. Net jou tyd. En ’n oop hart. “Giving to other people is what makes me feel alive,” sê Morrie.
Probeer dit! Maak ’n koeponboekie. Dit gaan sommer baie langer as net Kersdag plesier bring. Geskenke uit die hart kan nie gestrik word nie. Jy sal oorweldig wees met wat terugkom na jou toe.





