Jeffreysbaai se golwe en branderblankryers het die dorp wêreldbekend gemaak.
Die wêreld se beste branderplankryers het al hier die golwe kom aandurf en kan nie uitgepraat raak oor die perfekte golwe wat hulle grasieus kan uitry nie. Internasionale branderrykompetisies word reeds baie jare lank hier aangebied.
Ontstaan
Benewens visvang en die groot verskeidenheid skulpe op die strand, is dit eintlik die branders wat Jeffreysbaai bekend gemaak het. In so ’n mate dat ’n paar mense in die dorp lank gelede die inisiatief geneem het om in 1999 ’n museum tot stand te bring waar plaaslike en internasionale branderplankryers vereer word, en die geskiedenis van die sport uit te beeld en te bewaar. Robin en Irma Morris, en Rupert Chadwick was van die stigters van die museum wat steeds uitsonderlik onderhou word.
Gunsteling branderry-plekke
Super Tubes is die plek waaroor al die branderplankryers gaande is. Robin Morris is al verby 70, en is steeds gereeld in die water hier.
“Ek surf al van my kinderdae af! Ons het die heel beste golwe!” sê hy. Maar die beginners word aangeraai om by Lower Point te begin, dan te vorder na Point voordat Super Tubes aangedurf word.
Ou kaarte en fotos
Die geskiedenis van die dorp is visueel op ’n besondere manier aangebied met die hulp van Johan Deysel. Ou planne van die dorp wat uit 1852 dateer is te sien. Daar is selfs ’n foto waar nog met ’n don- kiekar op die strand visgevang word in 1968 en ’n foto vertel van die ou Sandown en Beach hotelle.
Plakkate van groot kompetisies van die laat tagtigs is teen die mure. Van die kleurvolles is dié van die Surf Classic 1982, die Corona Surfing Competition 2015/2016, die Country Feeling Surf Classic, en dan die kompetisies wat deur Billabong geborg is. Instrumente wat gebruik is om vaartbelynde borde te vorm, en selfs die bekende skulpvrou van weleer, Tant Engeltjie, se inligting is te sien.
Kelly Slater branderplank
Koerantknipsels vertel stories van toeka se dae. Die paar besoekersboeke vertel van mense van heinde en verre wat al op die dorp kom kuier het en aanhangers is van die sport. Die wêreld se grootstes het ook al boodskappe daar gelos.
Daar is talle trofees wat aan die museum geskenk is, en selfs die Springbok baadjie van Tim Millward wat in 1981 vir branderplankry verwerf het, is netjies uitgestal in ’n glaskas.
Die borde van bekendes soos Kelly Slater is in 2002 aan die museum geskenk. Talle ander borde van alle soorte en vorms is tot teen die dak gehang.
Museum in Quicksilver
“Ons het destyds gedink dit sal goed wees om die museum in die Quicksilver winkel in Da Gama-straat se boonste verdieping te vestig, omdat dit ’n surfing brand is, en word deur surfers besoek,” verduidelik Irma Morris. Hulle het ook goedgunstelik die ruimte beskikbaar gestel. Toegang is gratis, maar donasies is welkom om dit steeds te onderhou. Die museum is oop gedurende besigheidsure.
- Debbie Grobler is die knap kurator. Sy kan gekontak word by 083 526 9004.





