Tannie Joey Cornelius, ’n inwoner van Ons Tuiste op Humansdorp, vier vandeesweek haar honderste verjaarsdag. Die eeu se herinneringe lê helder in haar geheue.
Dié merkwaardige vrou, wat op 24 Januarie 1923 gebore is en op Noupoort grootgeword het, geniet goeie gesondheid.
Sy en haar man, Sarel, het destyds met ge-skiedkundige figure in die destydse parlementskouers geskuur. Die paartjie was die bestuurders van Akasiapark waar die amptenare gewoon het.
Sy het die twee Mulder seuns voor haar sien grootword, en die Corneliuse het gereeld saam met onder andere die destydse eerste ministers Hendrik Verwoerd en sy vrou Betsie, en minister John en Tini Vorster geëet.
Tannie Joey het vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens gewerk terwyl die Jan Smuts Lughawe nog in aanbou was.
Sy onthou nog die inwyding van die nuwe Johannesburg-stasie waar sy toesighouer was tydens die banket. Daar was glo van kreef tot skaapboud op die spyskaart.
Sy het ook die goeie dae van 1947 beleef toe die Wit Trein met die Britse koningsgesin aan boord deur die land gereis het.
Met die besoek aan Tannie Joey het sy haar kantsakdoekie eenkant gehou terwyl sy ’n boksie vol geskiedkundige wit-en-swart fotos wys wat stories vertel uit haar 100 jaar wat sy gelewe het.
Haar raad vir langslewendheid is om gelowig te wees, vriendelik te bly en liefde te gee.





