Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Images

Ek het my onlangs verlustig in die plasing op sosiale media van ’n liewe argitek vriend en sy vrou tydens hulle operatoer in Europa.

Hoe wonderlik moet dit wees om die ongeskonde eeue-oue geboue van weleer te kan besoek, te sien dat die vervoernetwerk van busse en treine uitstekend is – so ook ubers, taxis, trams, en ondergrondse treine, – altyd betyds.

Dit moet ook wonderlik wees om die besondere museums en kunsgalerye te besoek, en selfs ’n keuse te hê na watter opera jy wil gaan kyk. Dit moet hemels wees om veilig in die strate te kan drentel, en tot laatnag by straatrestaurante te eet. Hy het geskryf dat daar oral gratis WiFi is. En so het hulle in die euforie van eerste-wêreldse geriewe kennisgewings op die selfoon gekry van Eskom se nuwe beurtkragskedule in Suid-Afrika!

Die plekke wat hulle besoek het se parke is pragtig. Daar is ’n intellektuele nalatenskap deur mense soos Mozart, Beethoven, Freud en ander.

Hy vertel hoe die strate vol toeriste is wat ’n reuse inkomste vir die lande inbring – in teenstelling met Suid-Afrika, waar ons toeriste moet waarsku om versigtig te wees en sekere plekke te vermy.

Ons is al gewoond aan menigte slaggate op ons paaie, byna geen openbare vervoer nie, en, treindienste wat so te sê nie meer bestaan nie. Korrupsie is alledaags en ons skrik omtrent nie meer vir oneerlikheid, verval en lae standaarde nie. Ons moet dit egter beslis nie as die norm aanvaar nie!

Soos my vriend skryf, veroorsaak dit dat baie Suid-Afrikaners landuit vlug, en ge-sinne en families word verskeur.

Daar is tog vele positiewe dinge in ons land. Ek lig my hoed vir die werk wat Gift of the Givers doen, Solidariteit, en ander wat opstaan teen die euwels in ons land.

Daar is niks wat kom by ’n braai-kuier met vriende en om in ons mooiste taal te kan lag en grappies maak nie. Ons sonskyn en lieflike strande is onverbeterlik! Kinders kan skoolgaan, ons kan kerk toe gaan sonder vervolging.

Dit help niks ons kla oor die spreekwoordelike roos se dorings nie, en vergeet om die skoonheid van die blom te waardeer nie. Dit hang natuurlik af hoe ons sake beskou.

Ek lees van ‘n man wat in sy joernaal skryf dat hy ’n aaklige jaar beleef het: hy is geopereer, sy ma is dood, sy kar is beskadig, hy het sy werk verloor en sy seun was in ’n ongeluk.

Sy vrou het dieselfde jaar beleef en skryf toe: dit was ’n wonderlike jaar! Haar man het uiteindelik van sy galstene ontslae geraak, hy kon na 35 jaar diens met goeie gesondheid aftree, dat haar skoonma op 95 rustig oorlede is en dat hulle seun geen beserings in ’n ongeluk opgedoen het nie.

’n Wyse mens het gesê dat ons vreugde kan beleef deur dankbaarheid. As ons verby al die donker dinge in die land kyk, en dankbaar is oor die goeie, mooi en lekker om ons, sal ons dankbaar wees.

’n Vriendin gee my anderdag ’n plant uit haar tuin waar dit welig gegroei het. Nou staan dit in my binnehof, weg van sy plantfamilie. En jou waarlik! Dit groei en blom selfs.

Ons kan nie almal die land verlaat nie. Hierdie is ons Vaderland en ons Moedertaal is hier. Ons moet hier blom, waar ons geplant is!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article