Renier Viljoen (82) by die beeld van ’n oupa wat sy kleinkind in die lug optel, genoem ‘Oupa Vreugde’. Dit is een van sy gunsteling werke.

Foto: Veronica Fourie

Inwoners van Jeffreysbaai is bederf met die vele beeldhouwerke wat op verskeie plekke in die dorp opgerig is.

Nie net is daar die dolfyn by die hoofstrand Dolphin Beach nie, maar ook die een van die vissermanshond Brag, die branderplankryer by Kabeljous, en ’n engel by die Soetelief park.

Die abstrakte skaalmodel van die grootste brekende brander wat ooit gesien is – wat elf verdiepings hoog was – met die branderplankryer is ’n baken by Mentors vulstasie.

Kuns vat vlam na aftrede

Dit is alles die handewerk van oud-professor Renier Viljoen (82), ’n inwoner van Edenglen aftree-oord. Hy was eers ’n navorser in antropologie en sosiologie by die RGN. Daarna het hy hom in die akademie gevestig en was die dekaan van die Fakulteit Sosiale Wetenskappe, en het op die Universiteit Vrystaat se senaat gedien. Met sy aftrede en verhuising na Jeffreysbaai, het hy vir die eerste keer begin om beelde te maak.

“Dit het alles begin nadat ek my rotstuin hier mooi gemaak het, en iemand my toe gevra het om ook haar tuin uit te lê. Daarna het ek ’n wandelpad hier by die oord se dam uitgelê en die dam-area ontwikkel.”

Maar toe meen die oud-prof daar kort iets: beelde! Sy eerste beeld, ’n meermin (op aanbeveling van sy vrou Maggie) het hy van hoë gehalte vlekvryestaal en sement gemaak.

Renier Viljoen by die eerste beeld wat hy gemaak het. Die meermin by die damarea in die Edenglen aftree-oord is sy vrou se gunsteling.

Wiskundige figure sy gunsteling

Viljoen hou baie van wiskundige figure en abstrakte beelde. Nou staan daar al talle beelde in die dam-area. Sy werke is geïnspireer deur gebeure in sy lewe met liefde as die goue draad.

“Ek hou daarvan dat die werke deel moet vorm van die omgewing. Soos diei moebius figuur wat ewigdurendheid, of in dié geval ewige liefde, simboliseer. Dis vir my ’n fassinerende figuur.”

Beelde van koestering en hoop

Om elke hoekie by die dam-area is ’n verrassing: moeder en kind, grootouer vreugde na die geboorte van hulle eerste kleinkind, oupa vreugde, ’n verliefde paartjie.

Die lied van Leonard Cohen, Dance me, was ook die inspirasie vir ’n beeld. Daar is ’n abstrakte beeld van ’n bejaarde paartjie, en beelde wat koestering en hoop uitbeeld by die ingang van die oord.

“Ek is veral geïnspireer deur die werke van die beeldhouer Henry Moore wat ek op my buitelandse reise teëgekom het. Die klem is op die omgewing. Dit moet deel wees van die omgewing.”

Viljoen het gesorg dat daar visse in die dam kom, en toe sommer ’n dolfynbeeld gemaak en ’n terras gebou. Die 800 meter lange wandelpad wat hy uitgelê het is na hom vernoem.

Man van vele talente

“Ek is gelukkig baie handig, en het op skool leer sweis. Met die eerste beeld was dit ’n probeerslag en dit het begin lekker raak. Ek het heelwat opgelees oor hoe om te werk te gaan. Ek hou baie van ou motors. Hier staan juis ’n replika van ’n 1902 Rambler wat ek gebou het,” sê hy trots van die rooi motor.

Hy het mettertyd betrokke geraak by die Dorp van Dromers wat gelei tot die beelde wat in die dorp te sien is.

Viljoen hou niks van stilsit nie. Hy het al verskeie werke vir mense gedoen. Eers word die tekeninge op grafiekpapier gedoen en dan word die staalstruktuur gemaak. Daarna word dit bedek met sement.

“Hier staan seker meer as twintig van my beelde in die dorp. Maar nou beplan ek ’n beeld van twee bejaardes” en hy verduidelik presies hoe dit gaan lyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article