Die Humansdorp Plaasfees word hierdie naweek op die plaas The Burns tussen Jeffreysbaai en Humansdorp (langs die R102) gehou en bied ‘n program propvol lekker dinge aan om te beleef, te eet, en te geniet.
Na die sukses van 2019 se Plaasfees, het die NG Moedergemeente van Humansdorp besluit dit is die ideale feestelikheid om vanjaar die gemeente se 174ste bestaansjaar te vier.
Die Humansdorp Plaasfees vorm van ’n fondsinsamelingsprojek vir die gemeente en word môre en Saterdag (11 & 12 Maart) gehou.
Doendinge
Feesgangers kan rustig ’n verskeidenheid stalletjies en goeie musiek geniet. Vir die meer avontuurlustiges is daar ’n 5km Farm Fun Run, en ’n uur se Fitfest oefensessie om aan deel te neem.
Vir die kleinspan is daar ’n spesiale area met vermaak, ’n treintjie, en selfs ’n kuierhoekie vir mammas.
Vir die motorgeesdriftiges is daar motoruitstallings en die kuierarea bied iets te eet en drink.
Sangers op die verhoog
Die Plaasfees se hekke maak Vrydag om 16:00 oop en dan gaan gewilde sangers Herman Kleinhans en Spoegwolf optree.
Saterdag maak die hekke om 07:00 oop en verhoogoptredes sluit in, Kirky van Kirkwood, Ricus Nel, Riaan Benade, en Steve Hofmeyr.
Nog kunstenaars wat saamkuier deur die verloop van die naweek is LLevado, Boeremusiek – Vieroutjies,
Big Man and Bear, Devon Wade, Surf Boertjie, Johan (Loslappie) & Juan, en Karla & Kobus.
Gerrit (Gertjie) de Jager van Luister!FM is die Plaasfees se amptelike seremoniemeester.
Kaartjies en troeteldiereKaartjies is by die hek beskikbaar of kan Geraldine bespreek word by 082 321 4763. Besoek ook die Humansdorp Plaasfees op Facebook vir meer inligting en die volle program.
Toegang per dag en om al die kunstenaars te sien is R200 vir volwassenes en R50 vir laerskoolkinders; en gratis toegang vir kinders van 5 jaar en jonger wat saam met hulle ouers die fees bywoon.
Troeteldiere is ook welkom by die Humansdorp Plaasfees, maar moet aan leibande wees.





