Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Image

Aan die einde van die maand vier ek 23 010 dae op aarde. In kalender jare is dit dus 63 jaar.

Waar is die tyd heen? Dit het gevlieg!

Ek hoor anderdag iemand sê daar is ’n hormoon wat afgeskei word wanneer mens jonk is wat jou laat voel dat tyd stadig verbygaan.

Dit verminder glo met die jare en dan voel dit of die tyd vinnig verbygaan.

Oor die waarheid en juistheid daarvan kan ek nie sweer nie, maar ek kan dit glo.

As mens terug kyk op die afgelope week, of selfs saans in die katel dink aan die dag wat verby is, dan wonder jy soms wat het jy met die beskikbare ure gemaak.

Was dit produktief, het jy iets geskep wat jy kan wys, het jy die tyd omgeslaap, of dalk al die tyd op sosiale media deurgebring, gelees, of hoe?

Daar is ’n algemene gevoel dat tyd gou verbygaan as jy pret het, en dat dit andersyds so stadig kan loop as jy trauma ervaar of werk.

In my eie verlede toe ek maande lank in die hospitaal was na ’n motorongeluk, het dit behoorlik gevoel of die tyd stilgestaan het. Van een operasie tot die dokter se uitspraak oor sukses al dan nie was ’n ewigheid.

Nou dink ek weer innig aan vriendin, skryfster Annelie Botes, wie se been die week geamputeer is, en kunstenaar vriendin Anita van Tonder wie se lewe nou afgemeet is in stukke van een chemo behadeling na die ander.

Sy vertel hoe stadig loop tyd wanneer ’n drup twee ure lank moet loop, en ’n nag wat verbysleep wanneer jy nie kan slaap nie.

Hoe kan die tyd nie draal as mens in ’n verkeersknoop vasgevang is, of vir iemand moet wag nie!

Die ergste is as jy uitsien na iets – dan wil die ure en dae nie omgaan nie Maar kuier nou lekker, doen drentelend inkopies of speel ’n sport, dan wil dit blyk die minute tik vinniger verby.

’n Olimpiese atleet sal die waarde van ’n millisekonde kan sê. ’n Sekonde het saak gemaak toe jy ’n ongeluk vrygespring het, ’n minuut het getel toe jy ’n bus verpas het.

’n Dag se arbeid in die son kan lank wees. ’n Ma met ’n premature baba besef die waarde van ’n maand, en ’n student weet hoe lank is ’n jaar wat hy moet herhaal.

Met terugskou besef mens soms dat jy jou tyd gemors op iets, of self op iemand. Dit het egter op die oomblik betekenis gehad.

Soms is mens nie bewus daarvan dat jy iets vir die laaste keer doen nie, of iemand vir die laaste keer keer sien. Tyd is die kosbaarste kommoditeit, meer waardevol as geld.

Mens kan dit nie koop nie.

En tog: Vader Tyd loop altyd dieselfde. Die minute wyser tik altyd dieselfde, en die ure-hand beweeg langsaam op sy tyd.

Die onstellende feit is dat tyd aanstap en ons kan dit nie terugkry nie.

Al wat ons het is vandag, nou! Maak die beste daarvan! Gee vandag daai drukkie of kompliment.

Môre is dalk te laat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article