Foto ter illustrasie.

Foto: iStock

As daar basaar in die Gamtoosvallei gehou word, trek mense van heinde en verre saam en is dit ’n groot affêre.

En dis nou nie net vir die smul-lekker eetgoed nie, maar ook om weer bande met ou bekendes te smee. En veral om familieverbintenisse te ontrafel.

Ek tuit my ore daar waar ek by die lang basaartafel met my kaneelsuiker pannekoek sit. Ek hoor hoe daar vir iemand gevra word: “Nou van watter Ferreiras is jy?”

Ek besef dis ’n gelaaide vraag, want die Ferreiras is vervuil in die Gamtoosvallei, veral in Patensie. Daar word name en plekke genoem en: “o ja, dan was my ouma en jou oupa mos saam op skool!”

Basaargangers staan oral in groepies en gesels, party skud hande in die verbyloop met ’n gemeenskaplike lag en vonkel in die oog. Hierdie samesyn is kosbaar.

Veral vanjaar. My ore hoor daar by die koektafel dat dit vanjaar seker die moeilikste jaar nóg in die Vallei is. Die droogte, hoë insetkoste en markte het sommige boere op hulle knieë. Plase wat geslagte lank in families was moes verkoop word. Die Kougadam staan op net meer as 14%.

Maar vandag, hier by die basaar, is die bekommernisse vir ’n rukkie vergete. Die kruiwaens kreun soos helpers dit na die kopers se voertuie stoot – vol vars sitrus, groente, vleis, koek, kleinkoekies, jaffels en pannekoek.

Daar by die teetuinhoekie is spoggerige koeke en ander soetgebak. Langsaan kan die barista kwalik byhou met die koffiemakery.

Dis duidelik dat daar nie lyfweggesteek word nie. Die gemeente staan saam. Niemand is te grênd om hand by te sit nie. Die skool se wetenskap meneer bak behendig eiers vir die pure-plaasontbyt. Die groot kokkedoor by die Bespoeiingsraad is sommer ook die groot kokkedoor by die pannekoektafel. Hulle voorskote sê pannekoek maak jou sexy!

Van die kerkvroue het meer as twintig koeke elk gebak vir die gewilde koektafel. Die keuses laat jou mond water. Behalwe vir die sjokolade-, wit- , lemoen- en wortelkoeke, is daar ook neut-en-dadelkoeke, rolkoeke, Hertzoggies, jamkoekies, brode, nat beskuit en nog baie.

Die basaar-poeding vlieg behoorlik. Daai bakkies met die skuimpoeding, jellie en vla bly ’n treffer. Die braaivleisgeure lok mens om ’n tjoppie, wors en sosatie saam met die aartappel en slaai huis toe te neem. Party kan dit nie weerstaan nie en begin sommer dáár al eet en vingers aflek.

Dit reën af en toe liggies. Skip se pakstoor is ’n welkome skuiling. Die kinders baljaar uitbundig by die speelplek wat vir hulle ingerig is. Ander sit suutjies en verf of teken terwyl die ouers regskuif vir die veel verwagte veiling.

Daar word enigiets van persiese matte, wyn en jagtrips, tot hoenders, gin en koeke opgeveil. Die afslaer se stem dreun deur die pakstoor. As jy net bietjie rondkyk of aan jou neus vat, word jy dalk die eienaar van ’n item.

“Nee wraggies, dit help nou maar nie – ons kan lekker basaar hou! Die mense werk hard en staan saam, en ons kan tog te lekker vir ’n slag saamkuier, “lag-sê Fanie Voete Ferreira.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article