Suzuki Grand Vitara Hybrid AllGrip.

Foto: Verskaf

As jy daaraan gewoond is om, soos ek met die kleiner en goedkoper modelle Suzuki’s te ry, kan jy dalk ook opgewonde, en selfs effens skrikkerig wees as jy die kans kry om die nuwe Suzuki Grand Vitara Hybrid AllGrip te bestuur.

Baie mense beskou dié kompakte SUV, wat spog met 1.5-liter enjin, nie verniet as die vlagskip van Suzuki nie.

Alhoewel dit as ’n “mooi” voertuig be-skryf kan word skrik dit gewis nie vir ’n rowwe terrein nie.

As jy om die voertuig stap, val dit jou op dat die voorste en agterste ligte na iets lyk wat uit daardie ou Star Wars-flieks uit kom.

Die voorkant het skrefies-oë en die agterkant het een streep oor sy boude. Die voertuig is pragtig afgewerk en die voorkant is deur ’n kollega as “mosseldop” beskryf.

Die rooster laat die voertuig nogal “wintie” lyk met sy donker heuningkoekvorm.

Ek was verbaas toe ek in die motor sit, want dit het toe vir my skielik groter gevoel as wat dit inderdaad is.

Die raakskerm is daar, heel hanteerbaar, maar vir my was die 360-grade kamera-sig wat jy kry wanneer jy agteruit ry of parkeer ’n bonus.

Dit was ook lekker dat daar ’n klein skerm op die voorste paneel, in sig bo oor die stuurwiel, oopslaan wanneer jy ry en jy kan sien hoe vinnig jy ry sonder dat jy jou oë laer hoef te laat dwaal.

Nie almal hou noodwendig van ’n outo-matiese motor nie, maar vir my was dit nie ’n probleem nie.

My man het egter gevoel dat hy ’n gewone ratkas verkies omdat die Hybrid vir hom nie genoeg “woema” het nie.

Dit kon hy wel kry deur sportmodus net onderkant die ratkas te gebruik en dit het die voertuig meer krag gegee.

Daardie opsie, om die modus na “sport” of “sneeu” te draai is natuurlik die ding waaroor mense wat lief is vir die Hybrid, gaande is.

Ons het nou nie sneeu gaan soek nie, maar het die modus op “sneeu” gebruik toe dit skielik hard begin reën het.

Ja, ons het ook nie die weervoorspeller daardie dag geglo nie, maar toe sak die reën mos vir ’n paar dae lank in die Oos-Kaap uit.

Die modus het die 4×4 aandrywing aktiveer en ons het sonder enige probleme voort gery.

Op ’n droeër dag het ons ook ’n paar klipperige paaie en rantjies in die omgewing van Lady Slipper aangepak en die Hybrid het die toets maklik geslaag.

Op die afdraendes was daar die “Hill Descend”-knoppie wat jy kon druk en dan het die voertuig outomaties gerem. Ek moes net onthou om op my stuur te fokus en my voet van die rempedaal af te hou!

Natuurlik moes ons ook die sonpaneel oophou sodat die son ons kroontjies lekker warm kon bak.

Wat nog? Spasie? Heel gemaklik vir vier groot mense, dankie. As jy daarvan hou om bietjie stywer langs mekaar te sit kan jy maklik nog een of twee agter inkry.

En die bagasieruim is relatief ruim en dankie tog vir die paneel in die bagasie- ruim wat jy net kan oplig vir die spaarwiel, sonder om onder die voertuig daarmee te sukkel soos met onder meer my eie motor!

Laastens spog Suzuki se mense ook, soos gewoonlik, oor hoe min petrol hul voertuig sluk. Glo so 5.6 liter/100 kilometer.

So waag dalk ’n kans op die lotto en wie weet, dalk ry jyself eersdaags met ’n Suzuki Grand Vitara Hybrid AllGrip wat glad nie te versmaai is nie!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article