Die eksamenspook is nou die één ding wat ’n huishouding heeltemal op sy kop kan draai. Daar word naarstigtelik gewerk vir punte, belonings word aangebied vir prestasies, ekstra klasse word gereël en spesiale etes en stilte is aan die orde van die dag. Uitstappies word uitgestel en skermtyd word dramaties ingeperk.
Duisende leerders is tans besig met die halfjaar eksamen. Die koue maak die vingers styf en selfs die ink sukkel om vry te vloei. In die eksamenlokaal sien ek naels word gekou, koppe word vasgehou en party slaan oë dakwaarts opsoek na antwoorde. Hier en daar krap iemand aan ’n nuwe stres-puisie in ’n poging om die assosiasie rympie te onthou. Die toesighouer se afgemete voetstappe verhoog die hartklop.
Dié wat reeds skool verlaat het, weet hoeveel ’n bemoedigende briefie beteken het van ’n maat of kêrel/nooi. En die pen is ’n spesiale instrument wat die nuut verworwe kennis moet verewig op die intimiderende wit bladsye. Die stryd teen die ongenadige horlosie gee nie veel ruimte vir lank tob nie.
Onderwysvriende vertel my dat leerders ál meer sukkel om te memoriseer. Waarskynlik omdat inligting so maklik elektronies beskikbaar is. (Selfs die ouer garde memoriseer nie eens meer selfoonnommers nie – in teenstelling met eertydse landlynnommers, toe ons talle uit die kop geken het.)
Ek hoor ook leerders raak ál vindingryker om skelm notas te maak. Hulle moet nou selfs alle slim-horlosies afhaal tydens eksamentyd. Papiertjies is lankal uit die mode.
Mens wonder of eksamen nog ’n plek het, gesien in die lig van beskikbaarheid van kennis. Maar tog moet daar ’n meet- instrument wees om seker te maak almal wat ’n sekere graad geslaag het, beskik oor dieselfde vlak van kennis. Ons verwag bv. van mediese dokters of loodgieters of elektrisiëns om ’n bepaalde vlak van kennis te hê. As jy selfs ’n danser wil word, moet jy geëvalueer word. ’n Boer word be- oordeel aan die kwaliteit van sy oes.
Dis egter my mening dat ouers kinders so opklits vir die eksamen en verwagtinge stel, dat dit erge spanning veroorsaak. Evaluering is noodsaaklik om standaarde te bepaal. As jy dus sê jy het matriek geslaag, moet ’n mens kan aanneem dat jy byvoorbeeld met insig kan lees en skryf.
Ek stem saam met die motiveerder Jay Shetty wat sê: “Dis net ’n eksamen. Daar is kunstenaars in die klas wat dalk nie so goed sal doen in wiskunde nie, ’n sportman vir wie geskiedenis van minder belang is. Wie gaan ooit jou Junie-maand eksamenpunte vra? Jy het dit wel nodig om te vorder, maar prestasie volgens ’n ander se standaarde is van minder belang.”
Shetty se boodskap aan ouers is om hulle kinders van onvoorwaardelike liefde te verseker, ondanks prestasies. Moenie hulle drome, waardigheid en selfvertroue knak nie. ’n Swak punt kan nie hul talent of drome wegneem nie.
Dis noodsaaklik om die grade te slaag. Eksamens is belangrik, maar dis nie alles nie. Daar is veel meer potensiaal in die kind wat sal ontwikkel met aanmoediging, blootstelling en ervarings.
Albert Einstein het tereg gesê as ’n vis geoordeel word aan sy vermoë om boom te klim, sal hy altyd as dom gereken word.
Eksamen is nodig om kennis en standaard te bepaal. Maar dis net ’n eksamen. Dit definieer jou nie. Moenie so stres nie.





