Hanli Delport is omring deur die kleurvolle items met ’n see-tema wat sy maak om Jeffreysbaai se naam uit te dra en herinneringe te laat voortleef.

Foto: Veronica Fourie

Besoekers soek dikwels iets spesiaals om van ’n plek saam te neem huis toe – as geskenkies of as herinnering aan ’n heerlike vakansie by die see.

Benewens die pragtige doilies met skulpies en magnete, is tipiese souveniers skaars op die dorp.

’n Entrepreneur, Hanli Delport, het besluit om haar liefde vir die see uit te leef deur ’n verskeidenheid duursame items te maak wat kenmerkend is aan die Skulpiedorp.

As kind het sy al planne gemaak om geld te verdien. Nie net het sy die seuns in die koshuis se hare gesny nie, maar ook haar ouma se hare versorg, en blommemeisies se hare gevleg. Hanli het ook van haar tekeninge by die skool verkwansel vir snoepiegeld.

Toe sy elf jaar gelede van Kemptonpark af Jeffreysbaai toe gekom het om met haar groot liefde te trou, wou sy net heeldag na die see kyk. Dit het haar geïnspireer om haar kunstalent uit te leef. Sy het begin met magnete, piouterwerk, en loodglaswerk wat sy op ’n tafel voor haar man, Pieter, se onderneming verkoop het.

Dis hoe sy ook kon agterkom wat mense graag wil hê. Veral buitelanders wou kleurvolle items hê wat ’n storie van Jeffreysbaai vertel.

Die reeks het later uitgebrei na bruikbare stukke wat met resin gemaak is, soos sleutelhouers, oorbelle en drupmatjies. Nou is daar ook plakkers met die naam van die dorp, lisensiehouer-plakkers, muismatjies, bekers, selfoonversierings en bakkies – alles met die see-tema.

“Ek is baie gesteld op goeie diens. Die meeste van die skulpies wat ek op die items gebruik, tel ek self op. Ek het myself geleer om dit alles te maak,” sê die vrou met die lang hare.

Mettertyd het sy masjiene aangekoop om drukwerk te doen – nie net op papier nie, maar ook op klere. Toe het kliënte begin vra om eposse te stuur, en sy het haar diens uitgebrei na ’n volwaardige netwerk vir plaaslike mense. Sy bedryf nou die Postzone winkel, en haar handwerk is daar uitgestal en te koop.

“Ek sal altyd aangaan met my kuns. Dis vir my baie bevredigend om mooi dinge te skep,” sê Hanli trots met van die kleurvolle aandenkings om haar.

Sy het al ’n keer of wat by ’n mark uitgestal, maar verkies om dit ’n stokperdjie te hou en by die winkel te ver-koop. Jy kan dus sommer daar ’n geskenkie koop en ter plaatse die stukkie van Jeffreysbaai versend na ’n geliefde.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article