Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Images/Vaselena

Daar is seker nie ’n vrou wat nie ’n stryd het met die skaal of ouderdom nie. Of met groot skuldgevoel en versigtigheid ’n stukkie koek of tert, of aartappelskyfies eet nie. 

Ons is so gekondisioneer deur die media en die breë samelewing dat ons perfekte figure moet hê. Die reklamebedryf is een van skurke wat met ons selfbeeld smokkel deur gedurig nuwe verslankingsmiddels voor ons neuse te hou. Daarby is ons meer gesondheidsbewus, en dit behels dat ons volgens talle tabelle en grafieke ’n sekere massa moet hê vir jou ouderdom en lengte. 

Die ou lewe het so baie uitdagings, en om nou nog al die syfers van die skaal en maatband voortdurend in gedagte tehou, is wreed. ’n Ma moet daagliks bekostigbare etes voorsit vir ’n gesin, wat waarskynlik elkeen sy eie giere en grille het – wat reeds ’n uitdaging is. En om nou nog jou mates in ag te neem, vlieg dan by die venster uit.

Dit is natuurlik meer voordelig vir die gesondheid om nie oorgewig te wees nie. Die woord “obese” gee mens sommer ’n hartstilstand. So asof daar geen meer hoop vir jou is nie. Ons moenie dat ons lewensvreugde afhang van die grootte van jou rok, of wat die skaal sê of jou ouderdom nie. 

Ek was die afgelope tyd intens bewus van die voorreg om te kan eet. Nie net oor die sosiale en sielkundige waarde daarvan nie, maar ons verganklikheid. Ons het beleef hoe ’n goeie vriend op sy sterfbed met ’n spuit gevoer moes word. Die dae toe hy aan ’n skaaptjoppie en braaibroodjie gesmul het, het deur my gedagtes geflits. Wat sou hy nie gee om te kon eet nie!

Dikwels beperk ons onsself so erg met die syfers in gedagte. Dit is reg dat ons mooi na onsself moet kyk en trots moet wees op ons voorkoms. Maar party vroue raak sommer angstig as ’n groter langbroek gekoop moet word. Wat maak dit tog saak? Dis net jou eie stryd wat jou opklits. 

Veral nou dat ek gevorderd in jare is, besef ek toenemend dat om saam ’n glas wyn, sny koek of dekadente ete te geniet saam met vriende en familie, kosbaarder is as die kwaai naald van die skaal. 

Vir my is Sophia Loren die toonbeeld van skoonheid. Sy sê: “I would rather have pizza and drink wine, than to be a size eight.” So in my kraal! Daar is niks lastiger as om gaste te hê wat nie eet wat voorgesit word nie, omdat hulle op diëet is! Wees eerder lekker, eet maar ’n klein porsie, en moenie jou eet-kwessies aan tafel of in geselskap braak nie. Dis ’n persoonlike saak.

Self het ek annerdag ’n lêer weggegooi met eetplanne van ’n diëetkundige, die 28-dae eetplan, Weight Watchers, WeighLess, Hartstigting se plan, keto manier van eet, intermittent fasting planne, en wat nie als nie. Ten einde laaste het ek besef dat ek ’n sekere bou en gene het, en natuurlik lewenslus. Dit maak dat ek nooit ’n riet sal wees nie. En dis goed so. In elk geval, hoe sal ’n groot persoonlikheid nou in ’n klein lyfie pas!

Vergeet van klere wat jou moet wegsteek óf ten toonstel. Marilyn Monroe het gesê die mooiste ding wat jy kan dra, is ’n glimlag (en ek las by…lipstiffie).

Ook besef ek ’n diëet gaan oor wat jy in jou mond sit. Maar veel belangriker is wat úít jou mond kom. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article