Sedert die veel-gepubliseerde digter, skilder en akademikus prof. Heilna du Plooy en haar man hulle sowat drie jaar gelede op Jeffreysbaai kom vestig het, het sy inspirasie gevind in die see en omgewing om haar vierde digbundel te publiseer, Getye van Tyd.
Dit is byna ’n dekade na haar vorige bundel. “Hoewel ek dikwels besig is met akademiese skryfwerk, skryf ek maar altyd so aan die kant. Hierdie bundel is geïnspireer deur ons nuwe lewe hier, die see en wind, en dinge wat ons daagliks sien en beleef,” vertel Du Plooy.
Hulle het sowat drie jaar gelede van Potchefstroom na die Skulpiedorp verhuis, waar hulle al meer as dertig jaar kom vakansie hou het by hul familiehuis.
Sy was ’n professor in Afrikaans/Nederlands aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.
Du Plooy het reeds drie digbundels en ’n roman geskryf. “Poësie is gedagtes wat oor ’n lang tyd rypword. Dis so lekker om met die taal te speel!” sê sy entoesiasties.
Die voorblad van die jongste bundel van ’n seetoneel met wolke, is ’n gedeelte van ’n kunswerk wat sy geskep het en in haar huis hang.
Sy behoort ook aan die Palet kunsgalery waar van haar skilderwerk te sien is. “Dit is ’n heerlike stokperdjie,” sê sy.
- Belangstellendes wat die bundel Getye van Tyd wil koop, kan Heilna du Plooy kontak by 082 300 9068, of dit aanlyn bestel by Imprimatur Uitgewers.





