Dis darem só lekker, om veral in die winter, net te sít. Ons is dikwels te lui, of te styf om ons te lig om êrens heen te gaan, om nie te praat van ’n bietjie oefening nie.
Daar is egter ’n groot verskil tussen oefening en beweging. Met oefening is daar gewoonlik ’n doelwit – ’n tydbeperking om iets te voltooi, of ’n sekere vlak van fiksheid wat bereik moet word. Maar met beweging word gewoonlik bedoel om in jou eie tyd volgens jou vermoë jou liggaam te laat werk. Volgens die Senior Mind Moves Instituut is dit veral noodsaaklik om al die sintuie in te span.
Die Instituut bewys dat bewegings die verouderingsproses vertraag, en daar is selfs gevalle waar toestande omgekeer is.
Die voordele is legio: dit verbeter die immuunstelsel, bloedsomloop, geheue, beweeglikheid, asemhaling en siektes soos Parkinson’s en Alzheimers.
Maar om tog net eers aan die gang te kom, om te begín is die ding. Mens moet eers besluit waarvoor sien jy kans, wat jou onder die komberse of uit die gemakstoel sal kry.
Self is ek nou nie die atletiese soort nie, dus is draf vir my uit. Balvaar-dighede soos met pluimbal en tennis is hopeloos. My boude het glads te seer gekry met ‘spinning’. Ek verpes swaarkry en sweet by ’n gimnasium. Aqua aerobiese oefeninge in die water kan nog gaan, al kan ek nie swem nie. Dis veral genadig vir al skete weens talle ou frakture. Maar nou… die nattigheid! Stap is lekker veral met my maltees Fielies Fourie, maar ek slaan maklik dae oor omdat niemand my dophou nie.
Met my verhuising Jeffreysbaai toe, het ek boeke gevat. Die uiteindelike besluit was om te gaan lyndans. Ek is baie lief vir dans. Weens die gebrek aan ’n dansmaat, is hierdie die ideale opsie.
Dansjuffrou Marie Louw is die dierbaarste en geduldigste mens ooit. Sy gee nie om om een-en-twee-en-drie-en-vier honderde kere te tel, tot almal ’n passie regkry nie. Ek verstom my aan die mense wat na één demonstrasie van nuwe passies, die roetine onthou! Daar was selfs ’n danser wat haar kie-rie gebruik het, en ’n ander wat sukkel met Parkinson’s… maar nie opgee nie.
Juffrou Marie het egter nie rekening gehou met ’n nuwe aspirant lyndanser soos ek nie. Vir my moet sy maar ’n paar honderd keer meer wys. Ek staan by die Happy Feeters bekend as ‘Mare-lize’ (soos daai fietsryer wat in die rugbypaal vasgery het).
Maar, Juffrou Marie sê darem so af en toe: “Jy dans al baie mooi! Hou net aan!” Sy sê mens het nie talent nodig nie, net geduld! As jy kan loop, kan jy dans.
Oeeee! My enkel, knie en rug pyn maar na ’n uur se dans. Maar die genoegdoening om deel te wees van ’n aangename groep mense, ’n vaardigheid aan te leer, en iets te doen vir my gesondheid en beweeglikheid, is prysloos. Ons leer van ritme hou, om die passies te onthou en natuurlik is die sosiale aspek uiters belangrik. Dis alles kos vir die brein!
Die afgelope naweek was ’n groep van 21 lyndansers Paarl toe waar van die lyndanser gradering gedoen het, en ander het net sosiaal gedans saam met ander klubs. Ek is so trots op myself dat ek darem begín het en deurgedruk het sodat ek kon saamdans. Ek sou eers net die ba-nier vashou, maar al het ‘Marelize’ soms soos ’n volstruis rondgetrap, het ek selfs ’n sertifikaat kry!





