Lyndansers van alle ouderdomme van verskeie klubs het die afgelope naweek omtrent gedans dat die stof staan in die Paarl. Die Happy Feet Lyndansklub van Jefffreysbaai se 21 dansers het loshande die meeste toekennings losgedans.
“Julle het uitstekend gevaar en lewer ‘’n groot bydrae tot die bevordering van lyndans,” het Theo Williams, beoordelaar van die National Country Western Dancers tydens die “Cape of Good Hope Classics” gesê.
Benewens die dansers wat goue medaljes en sertifikate ontvang het, het drie Happy Feeters – Sharol Charity, Elmarie Roberts en Deseré Bellingan – ge-kwalifiseer as instrukteurs.
“Dis vir my baie belangrik dat die lyndansers wat help met afrigting goed gekwalifiseerd moet wees sodat ons die beste vir die dansers kan gee,” sê Marie Louw, internasionaal gekwalifiseerde instrukteur en hoof van die Happy Feet Lyndansklub.
Yolanda Herselman (A+) en Dorette van den Bergh (goud), het uitgeblink in die sosiale afdeling. Deseré Bellingan is bevorder na ’n meer gevorderde dansvlak.
Die klub is genooi om van 17 tot 19 November deel te neem aan die internasionale geleentheid UCWDC SA Classics by Sun City.
“Enigeen kan lyndans, enige ouderdom, geen talent of fiksheid is nodig nie. Net uithouvermoë om aan te hou. Dis baie goed vir die brein en gesondheid,” sê Louw.
- Belangstellendes kan haar kontak by 083 425 0724.




