Bouwer van Rooyen gaan ’n klaviersolo lewer, en by hom is Annatjie Smit, een van die bekwame koorleiers.

Foto: Veronica Fourie

Na verlede jaar se reusesukses met die Seniorburger Sangfees, kan musiekliefhebbers beslis uitsien na nog ’n oggend van lekker saamsing.

Dit was die blink idee van Bouwer van Rooyen.

“Daar is ’n groot behoefte om weer die ou FAK liedjies te hoor waarmee ons grootgeword het en saam te sing. Ons het van hulle bietjie afgestof en ’n klompie gekies wat mense na aan die hart lê. Baie daarvan hoor ons nooit meer nie, en wat tog gewild is en tot alle ouderdomsgroepe spreek,” verduidelik hy opgewonde.

Genot en passie vir musiek

“In hierdie koor sing hoofsaaklik seniors, wie se stemme goeie kwaliteit is maar dalk nou nie meer ’n oudisie vir ’n professionele koor sal slaag nie. Hulle sing dus nie in stemme nie. Dit gaan oor die genot en passie vir musiek,” sê Van Rooyen.

Hier word ’n geleentheid geskep vir die gehoor om met party van die nommertjies saam te sing.

Daar is ook heelwat beurtsang in die koor wat dit ’n ware luistergenot maak.

Rokkies wou sy dra

Dit is ’n besondere samekoms van deelnemers van 17 dorpe uit die Oos-Kaap wat saam in ’n massakoor sing en ’n ware gemeenskapsprojek is. Die tema vanjaar is “Rokkies wil sy dra”, en die liedjies gaan meestal oor vroue name.

Dink maar aan Sarie Marais, Lettie Klein, O die liewe Martatjie, Ou Tante Koba, Liefste Madelein en vele meer.

Van die liedjies het ’n vars verwerking, en daar sal selfs ’n paar bekende Engelse meisies ook besing word, byvoorbeeld Maggie.

“Die krag van musiek bring ’n samehorigheid mee wat die gemoed lig. Dis die heel beste medisyne. Musiek is ’n internasionale taal.

“Hoewel ons nie in stemme sing nie, is daar ’n wonderlike harmonie,” sê Annatjie Smit, een van die koorleiers.

Verrassings

Benewens die massakoor sal daar ook talle verrassings wees. Dit sluit in solosang, ’n manjifieke klaviersolo, en kitaar- en mondfluitjiespel van die Voorslag Boere-orkes.

Toegang vir die optrede op 16 September by die NG Kerk Jeffreysbaai Kompleks kampus is gratis. Dit begin om 11:00. Bel Ronel Maarschalk by 082 692 4385 vir navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article