Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Images

Knoppies is nou maar eenmaal aan die orde van die dag. Dit beheer die wêreld!

Ek het onlangs ’n nuwe selfoon gekry, en dis vir my sommer traumaties. Hoewel dit van dieselfde familie is as my vorige een wat in die water geval het, het hy allerhande ander knoppies wat gedruk moet word in verskillende volgorde.

Neem nou maar die betaalmasjientjies by die kasregister.

Elke winkel s’n verskil. Party knoppies wil lank vasgehou word, ander verlang weer net ’n vinnige drukkie.

Die televisie-afstandbeheer is nog ’n katoeter wat my soms frustreer. Dit gebeur so maklik dat mens per ongeluk die sensitiewe knoppies druk en verander dan die hele dekselse televisieskerm na allerhande annerlike dinge. Dit neem soms die duur van die program waarna jy wou kyk om uit te maak wat om te doen, of om ten einde laaste iemande te bel. Ek het eers gelag toe ek ’n grap-foto sien van ’n ouma se afstandbeheer waarvan al die knoppies toegeplak is, en net die ‘aan’ en ‘af’ knoppie is oop. Maar ek het dit ook al oorweeg…

Die ontwerpers van mikrogolfoonde meen seker dis net super sjefs wat daarmee werk, en nie gewone huisvroue en huishulpe nie. Voor jy die melk kan warm maak, moet jy eers bril opsit om te sien watter van die elektroniese knoppies die werk sal doen.

Dit neem my ook geruime tyd om die knoppietaal van die wasmasjien uit te werk. Ek lol nie met ander knoppies as hy eers reggestel is en goed werk nie.

Dis fynvat op die sleutelbord van die skootrekenaar, want met die vee van die hand oor ‘n ongewenste knoppie kan jy jou skryfsel verloor. Dit gebeur gewoonlik op die onmoontlikste tye. Dan moet mens maar een van die kinders roep om te help.

’n Mens moet kalm en in ‘n goeie luim wees as jy telefoniese navrae wil doen by diensmaatskappye soos die bank, munisipaliteit of selfoonbesigheid. Die spookstem gee ‘n mens opsies om ’n sekere knoppie te druk vir ’n betrokke diens. As jou aandag nou nét ’n oomblik gedwaal het en jy maak die verkeerde keuse, moet die hele lang wagproses weer pynlik deurgemaak word.

En wat nog van die drama as jy die verkeerde persoonlike nommer by die kitsbank gedruk het. Ek is sommer gespanne as ek daar staan. Híér moet jy nie ’n fout maak nie, want dit kan jou duur te staan kom. Dis nie altyd net vir ‘undo’ of ‘cancel’ nie!

Ek wens dikwels my motorradio het net twee knoppe gehad. Een vir aan en af, en die ander vir volume. Met al die elektroniese knoppies en opsies is mens al by jou bestemming en dan het jy steeds nie die regte stasie gekry nie. Dit geld sommer vir die cd-speler ook. Party mense is nou maar meer ingestel op die tegnologies as ander.

Helaas is daar ook mense wat jóú verkeerde knoppies druk. Dan wens mens weer jy het ’n ‘delete’ knoppie.

My familie en vriende kan egter enige tyd op my knoppie druk as ek kan help!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article