Dis menige vrou se kopseer om elke dag iets interessant uit te dink vir die huismense om te eet. Huiskos is immers die lekkerste kos van alles.
Maar aai, ’n mens se planne en idees raak op en wil soms ’n nuwe resep probeer.
Maar teen die tyd dat jy deur al jou resepteboeke geblaai het en besef het jy het nie al die bestanddele in die huis nie, verlaat jy jou weer op jou ma se resepte!
Dis staatmakers waarvan jy maar gewoonlik alles byderhand het. En jy ken ook al meestal die resepte uit jou kop.
Ek vind ook dat mens jou familielede en vriende assosieer met resepte wat hulle gereeld maak. As jy by hulle gaan kuier, hoop jy dikwels die bekende melktert of beskuit word voorgesit.
My vriendin Tersia maak die lekkerste frikadelle, en by haar drink ek die graagste tee. Sy maak die lekkerste tee in ’n mooi porselein teepot en pragtige koppies. Vir my is dit ’n groot bederf.
Lorraine maak weer ’n heerlike sjokoladekoek, en liefste Hannchen ’n onverbeterlike hemeltert. Tannie Lulu was die koningin van kleinkoekies. Ek het as skoolmeisie baie Saterdae-oggende die masjientjie gedraai vir die sagie koekies wat sy opmekaar gesit het met versiersuiker tussen in.
Tannie Hilda se gemmerpoeding was tops, en skoonsus Myra se soet-en-suur garnale laat telkens my mond water.
Party resepte moet mens baie akkuraat lees en presies daarby hou. Einste Tannie Lulu het altyd gepraat van ’n ‘zirtsie’ dit-of-dat, of ’n skeutjie, knippie of ’n handvol.
Vir myf het ek ’n resepte lêer gemaak. Dis die grootste lekkerte om ’n resep te gebruik wat in die persoon se eie kosbare handskrif is. Tannie Elsa se hoendergereg en yskastert se resepte is al geel, maar ek het soveel sentiment daaraan.
Ek het selfs ’n handgeskrewe resep van ons geliefde akteur Tobie Cronjé van ’n glutenvrye wortelkoek.
Daar is nog resepte van studentemaats wat ek by my kombuistee gekry het. So onthou elkeen op ’n ‘heerlike’ manier. Vir my dogter Erika se kombuistee het ek vir haar ’n handgeskrewe boekie gemaak met my beproefde resepte: my appeltert, sjokolade mousse, rysgereg en vele meer. Dit het haar ’n hupstoot gegee en nou is sy self ’n uithaler kok.
Party mense is so suining om resepte te deel. Vir my is dit weer ’n groot kompliment as ek iets kan deel. Soos vriendin Annemarie wat annerdag ’n verruklike tertresep gedeel het. Ek maak dit oor en oor en dit is ’n reuse treffer. Net vyf bestanddele.
Onlangs het ek ’n storie gedoen oor Gert Joubert wat die mede-wenner van die kookprogram Kokkedoor: Vuur en Vlam is.
Al kan hy die beste en mees eksotiese resepte maak, is sy ma se kerrievetkoek sy gunsteling om te eet.
’n Jarelange alleenloper vriend wat meestal in restaurante geëet het, wou met kuiers graag ’n grondboontjiebotter en stroop toebroodjie hê, want dit was nêrens op ’n spyskaart nie.
Daar is ook resepte wat mens by ander kan kry oor die lewe. Beproefde resepte. Ons moet dit net gebruik, sodat óns nie flops hoef te maak nie. En ma se resepte, vir die lewe en vir kos, bly die beste.





