Die Oos-Kaap is bevoorreg om van die land se top musici se werk te geniet in die imposante Veremarksentrum.
Die Veremark-orrelvereniging bied sy jaarlikse groot liefdadigheids-Kerskonsert aan in die Veremarksentrum op Woensdag, 6 Desember om 13:00 ten bate van Merryvale-skool.
Vier orreliste – Ciska Range, Albert Troskie, Jonathan Hughes en Justin Stone – speel feestelike kersmusiek op die indrukwekkende Veremark-orrel.
Vier soprano – Lucretia Sikwebu, Lidokuhle Gushu, Elsje Nelson asook die tenor Alfred Felkers – sing aantreklike werke vir die feesseisoen, insluitend O Holy Night, Angels’ Carol, White Christmas, Somerkersfees en ook die Ave Maria van Massenet.
Die briljante fluitis, Dr. Leonard Heydenrych, wat hom onlangs in Gqeberha gevestig het, sal die gehoor op pragtige fluitspel vergas, insluitend die Cantique de Jean Racine van Fauré, bygestaan deur minstens vier fluite o.l.v. Erna Cloete.
Op die vleuelklavier en reuse-orrel speel die klavier- en orrelduo, Erika Bothma en Albert Troskie briljante verwerkings van die Elizabeth-Serenade en die kerslied, Deck the Hall. Die konsert eindig op ’n hoë noot met al die musici en die gehoor wat saam The Holy City sal uitvoer.
Toegang is R50. Vir pensioenarisse is dit slegs R40 en vir kinders R10.
Geen voorafbespreking. Kaartjies by die deur. Die konsert sal ongeveer 75 minute duur. Navrae: (Prof) Albert Troskie 082 726 9595.




