Foto ter illustrasie.

Foto: Pixabay

Die reuk van sonbrandolie en krismiskoek, die gevoel van sand tussen die tone, geruis van die see en die borrel van skermerkelkie op die tong, is dalk teen dié tyd nou net ’n herinnering.

Die goue songebrande vel is besig om te kwyn. Die kersmusiek en vrolike kerversierings is sekerlik al weggepak. Maar al die ding (of enige ander manier van vakansiehou) is onder meer dít waarna ons verlang en smag deur die jaar – om dit weer te beleef.

Die nuwe jaar is luisterryk gevier met vonkelwyn en jolyt! Hoewel die viering al vervaag het, kom hy oor jaar weer.

Die jaar lê uitgestrek soos ’n strandhanddoek voor ons. Maar die ritme van die lewe verander nou gaandeweg na ’n vinniger hartklop. Dis weer tyd om te konsentreer om die nuwe jaartal reg te skryf. Die nuwe skooljaar klop aan die deur. En dit beteken weer inkopies vir skryfbehoeftes, skoolklere en –skoene. Die winkels hang omtrent uit met die terug-skooltoe promosies. Die jaar neem sy loop met vakansies aan die einde van kwartale, soos altyd. Met atletiek in die warme somerdae. Ouers sal weer langs die sportveld ’n riel doen om kinders aan te spoor.

Met nuwe moed trippel jy (weer) by die gimnasium of dansklas in om fikser te word. Met die nuwe eetplan gaan jy dié jaar wraggies daarby hou, en deurdruk tot jy jou doelgewig bereik. Net soos verlede jaar…

Skaars is die skoolkwartaal aan die gang, dan wals ons weer om geliefdes te bederf op Valentynsdag. Ons hou tog so van simboliek, van harte en rooi items wat liefde en passie aankondig.

Skielik neem die pas weer toe na Paastyd toe, want dan is daar weer ’n ruskansie. Ons polka winkels toe om paaseiers te koop en verlustig ons in die verskeidenheid soete plesiere en paasbolletjies. Die ritme van die lewe voorspel hierdie gebeure jaarliks min of meer op dieselfde tyd.

Intussen kom jou verjaarsdag weer verby…Jy maak of koop lekkernye om diégene wat jou onthou, te bederf. Soms voel dit of die jaar te vining verbygesnel het sedert die vorige verjaarsdag. Maar jy moet byhou en voort dans.

Ander dae word jy meegesleur op ’n treurige deuntjie met die jaarlikse herdenking van die sterfdag van ’n geliefde. Deksels! Al is dit hoe lank, daardie deuntjie bring jou soms net tot ’n hartseer gewieg – die ritme van die lewe bring jou soms tot stilstand.

Maar voor jy weet, het die seisoene verander. Jy het alweer somerklere vir winterklere verruil – jy doen dit elke jaar. So dans ons op die ritme van die lewe.

As jy net altyd op dieselfde deuntjie gedans het, maak ’n doelbewuste besluit om op ’n ander vroliker liedjie te dans. Kapityt hierdie jaar! Wees ’n lekker mens!

Mag dit ’n spiekeries nuwe jaar wees. My wens vir jou is om meer te lag, meer te kuier, meer te beweeg, meer vars lug te geniet, ’n reis te beplan en…lekker te dans op die ritme van die lewe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article